Ashley wen Swartland Tydren

Die welbekende Renosterbos se somer voorkoms het die Swartland van naam voorsien, maar Junie is winter en gewoonlik beteken dit dat die area lowergroen staan met koring sovêr as wat die oog kan sien, met geel canola insetsels. En op ‘n mooi wintersdag staan die 65km vêr Tafelberg op die voorstoep terwyl die spuitvliegtuie hul gratis lugskou lewer aan enigeen wat hulself digby die R45 of N1 bevind.

Dit was 4 Junie, Tafelberg het wel oudergewoonte nader gestaan danksy die pragtige skoon winter lug, met ‘n  verfrissende oggend wat mens laat smag het na ‘n lekker warm koffie. Kommerwekkend egter was dat hoewel die lande vol koring was het dit gelyk asof dit pas geplant was en daar was nog geen nut vir enige spuit vliegtuie. Die Swartland was ongemaklik droog. Vanuit ‘n tydrenner oogpunt was die dag egter onverbeterlik goed want die koel temperature, harde oppervlakte en lae koring het beteken dat die regtervoet net deur die ongenadiglike kontoere beperk sou word. En die Swartland boere weet hoe om kontoere te bou, geen stopsel is daarteen bestand in ‘n tydrenmotor!

Bekend as Malmesbury sedert 1829 en nie-amptelik die hoofkantoor van die Westelike Provinsie tydrenkampioenskap vanaf, wel minstens van voordat ek in die sport betrokke geraak het bykans 40 jaar gelede. Die “sindikaat” wat die sport destyds beheer het is steeds betrokke maar die voorname het nou plek gemaak vir “Oom” as aanspreek titel en daar word effe harder gepraat met mekaar, maar verlede Saterdag het die Swartland weer daardie goeie era herleef waar geesdrif en samesyn alle verskille têr syde gestel het in die naam van sportmangees.

Dit het alles begin tydens die Ceres Toyota Tydren toe Piet Bakkes akrobaties geraak het met sy VW Golf en acciDent Guru teen die verwagtinge daarin geslaag het om die wrak van kaal rolhok tot splinternuut te herbou. Paul van Wyk en Quinton Swart het Brenton Crow nader getrek terwyl Piet iewers op ‘n eksotiese eiland kelkies gedrink het en die span het groot indruk gemaak deur al drie MkI Golf's slaggereed te kry vir Malmesbury.

Die Namibiërs kon nie al die stukkende motors betyds uit die woestyn red na hul 1000 Duine Swakopmund Tydren om Ceres mee te maak nie en Oswaldo Mendes en Tinus Malan het vol hoop in Malmesbury aangemeld, net om te verneem dat hul ex-Jan Habig Golf nog steed op Klerksdorp was en eers 06h00 Saterdagoggend sou opdaag – as Johnny Olivier daarin kon slaag om die splinternuwe enjin en ratkas gereed te kry.

Gelukkig verstaan ek nie Portugees of Spaans, maar iewers langs die pad het Clint Lingeveldt sy 20klep 1.6 Toyota Avanté sportiewelik aangebied as alternatief sou die Golf nie sy opwagting maak nie. Selfs die regterhandstuur R2 Ford van Ashley Haigh-Smith het aantreklik begin lyk vir hierdie geharde VW bestuurder.

Ashley Haigh-Smith en sy Britse navigator, Niall Burns, het ‘n muntstuk in die lug geskiet en besluit dat die linkerhand stuur AHS Racing S5 Ford Fiesta R2 1.6 hul wapen van voorkeur sou wees, kompleet met beproefde nuwe bedradings harnas en daar het ‘n positiewe atmosfeer in die kamp geheers. Die feit dat Ashley en oudste broer, Alister, onlangs tweede gekom het in ‘n veld van 1500 tydens die moordende Sani bergfiets ren beslis ook goed vir die moraal. Die drie trajekte wat elk twee keer voltooi sou word om te voldoen aan die minimum vereiste afstand van 75km het skielik nie meer veel van ‘n uitdaging ingehou nie.

Sneltrajek 1 was die welbekende 18.17km Vogelgesang en die Fiesta het die hoë note klokslag gehaal om die trajek met dertien sekondes te wen. As Shaun Jones en Craig Gray nie besluit het om ‘n wyle in die waterkruising te vertoef om eers vir Louis Snyman en Paw Paw Koegelenberg te groet nie kon die Advanced Asphalting S5 Subaru Impreza 4x4 Turbo dalk die bordjies verhang het, maar as bly as. Kesevan Naidoo en Divan de Goede oudergewoonte ook vinnig op dreef in hul JSA Transmissions S3 Toyota Corolla RXi 1.6.

Met die spanne meer in die lug as op die grond het Vogelgesang soos verwag heelparty note stomp afgesny met Ian Long en Brian Hoskins die eerstes om na slegs sowat 750m die voorvering van hul S2 VW Golf MkI in twee rigtings te stuur na ‘n harde landing. John en Weston Peiser het aanvanklik goed vertoon in hul Speed Pro Cycling S5 Subaru Impreza GT 4x4 Turbo, maar die motor breek ‘n dryfas laat in die trajek. Keenan Sassman en Clint Lingeveldt breek ‘n dryfas sowat 200m na hul verby Long / Hoskins is in hul S3 Toyota Corolla RXi 1.6.

Charl Strydom en Sakkie Bosman wou so graag sien hoe die onderskeie spanne lugtyd verdien langs die N7 dat hul die Sabre Paints S4 VW Polo 2.0 20v met enjin probleme onttrek het en die rol van toeskouers aangeneem het. Ebrahim Levy en Jean-Pierre Jacobs het vir redes onbekend ook verdwyn met die Jive S3 Toyota Corolla RXi 1.6 en die netjiese S3 VW Polo van Llewellyn Jones en Christophe Pichon is ook onttrek.

Ondanks die feit dat Paul van Wyk met ‘n maag virus onder lede deelgeneem het slaag hy en Quinton Swarts teen alle verwagtinge daarin om SS2, die 9.34km Bottelfontein, te wen in hul acciDent Guru S3 VW Golf MkI 2.0 8v met Ashley tweede en Shaun derde. Darren van Greunen en Randall Marais verander hul acciDent Guru S3 VW Golf MkI in ‘n driewiel.

Ebrahim Mia en Ameen Snell onttrek hul S3 VW Golf III met 'n gebreekte ratkas en leen hul verkoeler aan Riyaan Amlay om die Polo diensbaar te hou na 'n harde landing. Shaheen Amlay en Matt-Jason Köhler onttrek ook hul S4 Toyota Run X RSi nadat hul sowat tien minute in die trajek verloor het na 'n harde landing die verkoeler gebreek het en die koppakstuk uiteindelik geblaas het.

Shaun druk hard in sneldeel drie, 10.10km van Kalbaskraal, om die halfpad merk van die tydren te bereik met slegs ‘n vier sekondes agterstand teenoor die Ford van Ashley Haigh-Smith terwyl Kesevan Naidoo bestendig vertoon het onderweg na ‘n potensiele derde posisie. Die tweede helfte van die tydren ‘n herhaling van die drie trajekte en dit is Ashley Haigh-Smith en Niall Burns wat die AHS Racing S5 Ford Fiesta R2 1.6 absoluut foutloos aanspoor tot ‘n puik oorwinning op hul tuisfront.
    
Shaun Jones en Craig Gray het hul bes probeer en die Advanced Asphalting S5 Subaru Impreza 4x4 Turbo is met oorgawe oor elke kontoer lanseer, maar moes uiteindelik met 26 sekondes die knie buig. Shaun reken hy behoort na twee weke se fisioterapie wees volkome te herstel na die vele harde landings van die dag. Paul van Wyk en Quinton Swarts aangenaam verras om derde algheel te eindig met die acciDent Guru S3 VW Golf MkI 2.0 8v nadat Paul dit ernstig oorweeg het om glad nie te ry nie as gevolg van ‘n uitputtende maag virus.

As dit nie vir slegte geluk was nie het Kesevan Naidoo en Divan de Goede geen geluk gehad nie want met derde plek algeheel feitlik gedane sake sny hul JS Transmissions Toyota Corolla RXi 1.6 onverklaarbaar uit onderweg na die finale kontrole punt. Hoewel die motor uiteindelik weer aan die gang kom na dertien minute moes hul tevrede wees met vierde posisie. Anthony Connelly en Shawn Nefdt het beslis aandag getrek met ‘n vasberade poging in hul S4 VW Polo 2.0 om welverdiend vyfde algeheel te eindig.

Trevor Hodges en Ian Thebus het die enjin skermplaat onder hul Claremont S4 VW Golf III 2.0 verloor en met baie harde landings en groot klippe teenwoordig het hul wyslik besluit om dinge effe rustiger te neem onderweg na ‘n bemoedigende sesde posisie algeheel. André George en Michelle Taylor het die S4 VW Golf MkII 2.0 van Paul Emmanuel benut terwyl die gerolde Conquest herbou word en op debuut slaag hul daarin om ‘n goeie sewende posisie algeheel in te neem. Winston Neethling en Lyle Marais het vinniger gelyk en beslis beter geklink as die agtste plek wat hul uiteindelik ingeneem het met die ex-Hannes Grobler S5 Nissan Sentra 4x4.

Riyaan Amlay en Rafick Mia negende in die RAmlay S3 VW Polo 2.0 na ‘n bestendige tydren. Oswaldo Mendes en Tinus Malan uiteindelik in ‘n baie bemoedigende tiende posisie algeheel na ‘n week van teenspoed in die Skyway S4 VW Golf IV 2.0. Die feit dat hul egter daarin kon slaag om die vierde vinngste tyd op twee geleenthede te kon aanteken het hul positief laat terugkeer na Swakopmund.

Piet Bakkes en Henry Köhne elfde algeheel sonder ‘n skrapie aan die nuwe S3 acciDent Guru VW Golf MkI 2.0 8v het vraagtekens laat ontstaan, maar met feitlik geen kans om die nuwe motor te beproef moes Piet eenvoudig die aggressie tem om die motor verder te ontwikkel. Nog ‘n lekker vakansie en hy sal weer volstoom terug wees!

Denzil en Robyn Isaacs het beindruk met ‘n goeie vertoning in hul S2 Toyota Conquest 1.3 onderweg na twaalfde algeheel terwyl Tariq Khatib en Razley Ryklief hul netjiese S2 VW Golf MkI 1.6 in die dertiende plek laat eindig het na ‘n bestendige vertoning. Andy Haigh-Smith en Kevin Aldridge veertiende in die onstuitbare AHS Racing S3 Mitsubishi Lancer GT 1600. Vir Kevin was dit slegs sy tweede tydren ooit en die konstante spronge het hom ongemaklik siek gemaak en om alles te kroon breek die Mitsubishi ‘n stuurstang platvoet in vyfde tydens die finale trajek. Wonderbaarlik tref hul niks en nood herstelwerk sorg dat hul steeds die eindpunt haal.

Julian Calvert en Terry Croy vyftiende in hul netjiese S3 VW Golf MkII 2.0 en die finale span tuis die Extreme Contractors S3 Toyota Corolla RXi 1.6 van Faizal Davids en Ridwaan Nordien. Vir die WP het die tydren net goeie nuus beteken met 28 inskrywings, 28 spanne wat die tydren begin het en 16 wat geklassifiseer kon word in die finale resultaat. Sonder uitsondering moet elke span teenwoordig gekomplimenteer word op die netjiese voorkoms en voorbereiding van hul onderskeie motors. Die gesamentlike gevolg is dat daar weer gebou word aan die plaaslike standaarde in beide kwantiteit en kwaliteit met heelwat nuwe gesigte teenwoordig.

André Cleenwerck en Justin Gay ongelukkig om hul netjiese S3 VW Polo na drie sneldele te onttrek en so ook die Extreme Contracting S3 Toyota Corolla RXi 1.6 van Ismaeel Davids en Yusuf Ganief en die S4 VW Polo van Paul Emmanuel en Robin Benjamin. Onder leiding van Billy Thorpe het die tydren se organisering goeie resultate afgewerp en was die Roetedirekteur, Pierre van der Westhuizen, se taak aangenaam. Met CPMCC legende Bill Bright in die opvolg motor en Graham Vincent in die 0 motor was al die ou name teenwoordig. Gerald Brace, Louis Snyman, Paw Paw Koegelenberg, Hennie Mostert, Hugh Young, Dave Smeda, Tony Norton, Marius Matthee, Marius Rudolph en vele meer het dit moeilik gemaak om verby enigeen te stap.

Ook baie bemoedigend was die feit dat die tydren sekerlik die beste media verteenwoordiging gehad het, veral met betrekking tot fotograwe want Eric Joseph is behoorlik agtervolg deur Jason Hanslo, Reynhard Gelderblom, Frankie Petersen, Roger Lagesse, Dwain Keur en meer. Goeie toeskouerspunte, uitdagende trajekte en gesonde ondersteuning deur AA Powder Coaters, Just Engineering, Metricsteel, Advanced Asphalting, GCF Civils en K&H Freight tesame met Malmesbury Toyota
het die CPMCC Malmesbury tydren weer tot sy reg laat kom as ‘n hoogtepunt op die jaarlikse kalender.

Mag ronde vier, die Blue Crane Tydren, op 27 Augustus 2016 dieselfde sukses geniet in die Overberg!