Dave en Mark steel kollig op Killarney

Onverbeterlike weerstoestande ontvang die groot aantal toeskouers teenwoordig by Killarney vir die sesde ronde van die Wingfield Motors Power Series en die aksie op die baan stel beslis ook nie teleur nie. Konstante ontwikkelling van die fasiliteite by Killarney maak dit amper een van die aantrekkingskragte om te let waarop daar tussen wedrenne gefokus word. Vrouedag word by die dag se verrigtinge ingesluit en die dames word behoorlik trakteer in die WPMK klubhuis.

Kommentator Frank Heunis laat toeskouers en deelnemers op gepaste wyse afskeid neem van vier motorsport staatmakers wat sedert die Julie byeenkoms aan die dood afgestaan is met ‘n 1 minuut stilte. Moose Watt, musiek legende en Cars Unlimited Porsche 911 bestuurder, Keith Bright, Mnr Glasvesel in plaaslike motorsport en broer van Brian Bright, diensspanleier vir Zulch Motorsport, Johann Rabe, asook krieket legende Clive Rice, wat self nie onhandig was agter die stuur van ‘n renmotor nie.

Formula Libré 2 x 8 Rondes
Joshua Dolinschek beindruk deur die eerste uitdun voor Mike Verrier weg te raap. Sy debuut in die Formule Ford Zetec 1600 begin puik met die eerste posisie op die wegspingrooster met 1min20.363 en 146.351km/h gemiddeld, maar Mike Verrier vind sy voete in die veel kragtiger Formule VW om die tweede uitdun te wen met Joshua tweede.

Jurie Swart beindruk met twee goeie derde plekke in die Formule Vee waarmee Joshua voorheen gejaag het en die 600cc Suzuki aangedrewe Dico Racing / Easy Skips RM08 Formule M renmotor van Dee-Jay Booysen eindig vierde in beide renne. Algeheel eindig William Vice vyfde in die Valley Funerals / Gearbox Exchange FVee Laser emt die Lantis FVee van Wade Godding sesde. 

Mutlu Batteries Classic Cars 2x 9 Rondes
Mark Uytenbogaardt open sy rekening met die eerste wegspringplek 1min22.589 en 141.891 km/h in die SASCAR baseerde 1967 Ford Mustang V8 maar dit is die ratse Riebeek Kasteel Guesthouse Mazda R100 van Dave Köpke wat die stadiger verkeer tot voordeel benut om die eerste uitdun te wen.

Mark Uytenbogaardt het egter goed opgelet na waar die Mazda sterker was en gebruik die groot Ford se gewig en krag om die Mazda se planne te neutraliseer in die tweede uitdun. Algeheel was dit egter Dave Köpke wat algehele oorwinning gesmaak het en kan mens nie anders as om uit te sien na hul volgende konfrontasie. Die Ford is in staat tot veel vinniger tye, maar kan nie bekostig om uit te breek nie en Dave sal hoop vir nog meer verkeer waardeer die kleiner Mazda kan vleg.

Trevor Momberg het weereens puik bestuur om die pragtige Ford Capri 3.4L derde algeheel tuis te bring. Chris Carolin was met erns terug in die Carol1n Cars Mazda Capella maar die motor breek ‘n dryfas en verloor die linker agterwiel tydens die oggend voorbereiding en moet met die gevolglike skade onttrek aan die dag se verrigtinge. Richard Quixley lyk gevaarlik in die Datsun 240Z 2.8, maar ‘n boks vol neutrale ratte skakel hom uit tydens die tweede uitdun. Die Van Niekerk kombinasie het hierdie byeenkoms misgeloop in die hoop om weer al hul motors slaggereed te kry vir 5 September!

Dave Alhadeff jaag foutloos na vierde plek algeheel in sy klas B Alfa Romeo GTAM replica terwyl die magtige Ford Fairlane V8 van Malcolm Uytenbogaardt die baanbeamptes besig hou nadat die enjin al sy olie deur die uitlaatselsel verloor het. Jonathan Bernstein beindruk met vyfde plek algeheel in sy klas C Lucky Strike Ford Capri en word gevolg deur Derick Truscott in die klas C Alfa Romeo Berlina.

Die enigste klagte was die feit dat hier beslis ‘n paar motors ontbreek het en hopelik sal hul almal September terug wees op die baan.

Cars Unlimited Fine Cars 2 x 9 Rondes
Soos nou reeds die norm is die Cars Unlimited Fine Cars ingesluit in die Mutlu Batteries Classic Cars uitdunne en het hul teenwoordigheid nie alleen beteken dat die getalle goed gelyk het nie, die uitslag was constant in die weegskaal met Piet Matthee wat eerste stem dik gemaak het met 1min31.039 teen 129.189km/h gemiddeld goed genoeg vir die eerste plek op die wegspringrooster in sy 1989 Porsche 944 S2.

Piet wen wel die eerste uitdun, maar jaag slegs 0.067 sekonde voor die BMW 325i van Wayne Bennett verby die geruite vlag met die Lynx Motorsport Porsche 944T van Eric van der Merwe derde en die VW Jetta 1.8 van Jaco Lambert vierde. Dr Geoff Bihl vyfde in die 1984 Porsche 944 S2 en die top ses afgerond deur die Serge Damseaux GpN replica Toyota Conquest RSi van Deon Conradie.

Die tweestryd tussen Ray Cooper se Peninsula Power Products Ford Escort GT 1.6 en die Jotim Steel Ford Cortina MkII van Peter Church weereens ‘n hoogtepunt.

Eric van der Merwe verhang egter die bordjies in die tweede uitdun om eerste verby die geruite vlag te jaag met Piet Matthee kort op sy hakke en Wayne Bennett derde in die Oasis Motors BMW 325i. Jaco Lambert weereens vierde met Geoff Bihl vyfde en Deon Conradie sesde. Die pragtige MGB V8 van Anton Rollino sewende en Paul Church agtste. Peter Leppan ook voor Ray Cooper op hierdie geleentheid. Punte vir hierdie reeks word egter volgens verrigtingsindeks bepaal en nie noodwendig die volgorde op die baan nie. 

Mike Hopkins Classic Bikes 2 x 8 Rondes
Warren Guantario eerste op die rooster met 1min18.911 teen 149.044 km/h gemiddeld is ongetwyfeld indrukwekkend aan boord van die Kawasaki ER6 met spanmaat JP Freiderich as skaduwee.

Die Calberg Hydraulics spanmaats Warren Guantario, Kawasaki ER6, en Jean-Pierre Freiderich, Suzuki SV650, domineer ook beide uitdunne en hoewel hul posisies verwissel is dit Guantario wat eerste die geruite vlag ontvang.

Mike van Rensburg derde in beide renne op sy klas B MVR Racing Kawasaki ER650 met Chris Williams vierde op sy klas B DEA Technologies Kawasaki ER650. Andrew Liebenberg vyfde op sy Calberg Hydraulics klas A Kawasaki ER650 met John Kosterman sesde op sy klassieke Suzuki GSXR750.

Willem Binedell wen klas C op die Rapid PC Board development Honda VFR400 terwyl Abdul Dulwai die Clubman kategorie wen.

Bold Marine GTi Challenge 2 x 8 Rondes
Kosie Weyers weereens die vinnigste met 1min25.155 oftewel 138.118 km/h gemiddeld in die Mike’s Place VW Golf MkI, maar weer raak die motor onklaar terwyl dit voorloop om die eerste uitdun aan Nian du Toit te besorg in die Cheaper Cars VW Jetta 3. Nian het self tydens die oggend voorbereiding ‘n paar nuwe kreukels in die Jetta aangebring en dit was Jano van der Westhuizen wat hom verby die geruite vlag gevolg het in die Kwikfit VW Polo Vivo met Marco Busi derde in sy Automan / Top Watch VW Jetta 2. Christopher Swart tevrede met vierde plek in die Spongebob Racing VW Jetta 2 en vyfde aan Andrew Goslett in sy Gap Motorsport VW Polo Classic.

In klas B kon die top drie waarskynlik onder een kombers bedek word met Zaki Hendricks, Wheelworx / Mad Performance VW Golf MkII, gevolg deur Ashley van Niekerk, Ashrome Electrical VW Polo Classic en Stiaan Kriel, VW Golf MkI.

Teen die verwagting was dit Ebrahim Levy wat dominant vertoon het in klas C met sy Jive / Armien Levy Motorsport VW Golf MkI en moes die strydende Paul Simon, Blitz Hardware VW Golf MkI, Mario Roux, Sprayteq Auto Body Repairs VW Golf MkI, Jarred Simpson, VW Golf MkI, Peet van der Walt, PSW Sport VW Golf MkI, Gideon Serfontein, VW Golf MkI, en Dewald Lubbe, Combustion Technology VW Golf MkI eenvoudig volg.

Die tweede uitdun behoort aan Kosie Weyers en hy verdwyn eenvoudig in die voorste posisie met die Mike’s Place VW Golf MkI. Die strydende Nian du Toit en Jano van der Westhuizen maak kontak op die finale ronde en beide arriveer in Engen draai met papwiele. Marco Busi kan sy geluk nie glo nie en glip deur na tweede plek met Christopher Swart derde. Nian du Toit en Jano van der Westhuizen onderskeidelik vierde en vyfde.

Pieter Kriel wen klas B met Jacques Geldenhuys tweede en Craig du Toit neem derde plek in met sy GT Autos / Powerflow Tokai VW Golf. Scott Hayes eien vierde plek met  Zaki Hendricks en Ashley van Niekerk onderskeidelik vyfde en sesde nadat hul die langer lyn rondom Hoals op die proef gestel het.

Ebrahim Levy jaag weereens foutloos in klas C met Dewald Lubbe tweede, Paul Simon derde, Mario Roux vierde, Jarred Simpson vyfde en Peet van der Walt sesde.

Algeheel is die volgorde in klas A Marco Busi eerste met Nian du Toit tweede en Jano van der Westhuizen derde. Zaki Hendricks wen klas B met  Craig du Toit tweede en Ashley van Niekerk derde. In klas C is die volgorde Ebrahim Levy, Paul Simon en Mario Roux. 

Mike Hopkins Superbikes 2 x 8 Rondes
David McFadden word baie eerlik gehou deur Ronald Slamet tydens die eerste uitdun en ontvang die tweede op ‘n skinkbord nadat ‘n gevaarlike olielek Slamet tydens die opwarmingsronde in Hoals tot stilstand gedwing het. Ronald Slamet het egter die baanrekord verbeter vir Superfietse tot ‘n indrukwekkende 1min10.764 166.203km/h gemiddeld.

Trevor Westman en die Mad Mac’s Kawasaki ZX10R het moedig vertoon onderweg na tweede algeheel met Brandon Haupt derde op die MXClean, Global & Local Kawasaki ZX10R. Die ongelooflik indrukwekkende ASAP World Kawasaki ZX6RR van Hayden Jonas vierde algeheel met Aran van Niekerk vyfde algeheel met sy terugkeer. Quinton Ebden sesde op die Print It Yamaha R1 en ‘n erg frustreerde Gerrit Visser sewend nadat hy met 30 sekondes gestraf is deurdat hy te vroeg weggespring het op sy Kawasaki.

Karl Scholtz wen klas B op die ASAP World Kawasaki ZX6 met Jacques Ackerman tweede op sy Jotim / Rabbit Hole/ iTech Yamaha R1 en in die derde plek was dit Arrie Swanepoel op sy BMW S1000RR. Wesley Levin wen klas C op die Yamaha YZF R1 emt Wayne Arendse tweed op sy Honda CBR600RR en Nick van Zyl derde op sy Inter-Speed Shipping Kawasaki ZX10R.

Crossley & Webb Sports & GT Cars 2 x 10 Rondes
Dawie Joubert plaas die pragtige Old Rembrandt Shopping Experience Lotus Exige Honda Turbo eerste op die wegspring rooser met 1min13.365, 160.267km/h gemiddeld maar Johan Engelbrecht is die verrassing in hierdie kategorie met die swart Madonna Prosecco Wines of Italy / Jogajoga Café Porsche GT2R duidelik terug op standaard.

Johan behaal ‘n best tyd van 1min12.648, 162.34km/h onderweg na oorwinning met Dawie ‘n kortkop voor Francis Carruthers in die Harp Motorsport Nissan Juno SS3. Johan herhaal die prestasie in die tweede uitdun maar Dawie Joubert bots skouspelagtig met die spermuur op die hoof pylvak met die Lotus en die ren word gestaak. Dawie klim ongedeërd uit wat oor was van die Lotus en die ren word hervat met Johan en Francis eerste en tweede.

Craig Jarvis algeheel derde algeheel in sy Panacea Porsche nadat die veelbesproke Panacea Dodge Viper ACR met ‘n gebreekte ratkas onttrek moes word tydens voorbereiding.

In klas B klop Keith Fourie, Porsche GT3 3.6, vir Gary Kieswetter, Advanced Packaging Technology Porsche GT3 RS, en Matt Kreeve, Porsche GT3, na ‘n verbete stryd. Ongelukkig kon André Brink ook nie deelneem in die SSB Transport Porsche 997 GT3 Cup nadat hy vroegoggend al reguit af is in BP. Ryan Buda, Fatsak Porsche GT3 Cup 3.6, klop Colin Plit, Tricera Investments Porsche GT3 Cup, in klas C met Louis de Jager derde in sy Lola T212 replika.

Sean McCarthy wen klas D in sy Storage Town Porsche GT3 met Divan Wentzel tweede in die 5.7 V8 Corvette aangedrewe Porsche 944 en Ray Farnham derde in sy Opel aangedrewe Birkin 7.

Makita Supercars 2 x 8 Rondes
Brad Wadeley het met 1min22.922 en 141.854km/h gemiddeld die eerste plek op die wegspringrooster ingeneem en danksy bestendigheid die voordeel omskep in algehele oorwinning. Andrew Moffitt tweede en Ryan McCarthy derde terwyl Nick Adcock slegs vierde plek kon vermag. Vir Dayn Angel was dit ‘n dag om te vergeet nadat die Autohaus Angel inskrywing besluit het om die enjin te ventileer tydens die eerste uitdun. Hy veg met nuwe enjin puik terug tot vierde plek in die tweede uitdun maar algeheel was hy nêrens.

In die brons kategorie blink Ashraaf Fredericks, WPMC / Lotto Development Program, uit met Glen Phillips tweede en Gary Thomson, KTS Racing, derde. Komplimente vir die reeks is dat dit tans die negentiende seisoen van Supercars is en die elfde met ondersteuning van Makita.

Brian Bright, die man wat die reeks in samewerking met Owen Ashley van stapel gestuur het was ook teenwoordig uit Australië. Ongelukkig hierdie keer hoofsaaklik weens die afsterwe van sy ewe bekende broer, Keith.

V8 Masters 2 x 8 Rondes
Vir punte voorloper, Franco Donadio, verloop die dag baie sleg deurdat hy in sy pogings om Richard Schreuder uit Malmesbury draai te vermy reg voor Jurgen Zu Bentheim beland en beide motors word erg beskadig in ‘n skouspelagtige botsing. Franco se punte voorsprong iets van die verlede en Jurgen se splinternuwe motor skielik sleg tweedehands.

Marcel Angel sit nie ‘n voet verkeerd nie en die Autohaus Angel inskrywing glip verby Richard Schreuder se TRS Construction inskrywing om uiteindelik algeheel as wenner uit die stryd te tree. Craig Jarvis slaag daarin om Richard Schreuder se dag verder te ontsier deur die tweede plek algeheel agter die Panacea inskrywing aan te teken. Richard se aanvanklike 1min16.794 153.153km/h eerste plek op die wegspringrooster nie goed genoeg om die opponente te troef op hierdie dag.

In die Silwer kategorie klop Brian Evans vir Tim Reddell en Mark Ridgway.

Midas Clubmans 2 x 8 Rondes
Henko de Klerk spring eerste weg met 1min22.010 143.412km/h agter die Weskaap Bakwerke VW Jetta 2 Turbo aangeteken en deel die voorste ry met spanmaat Brennon Green in die Weskaap Bakwerke VW Golf 7 GTi Turbo. Ongelukkig omskep Brennon sy goeie vertoning in die eerste uitdun na agtste posisie nadat hy met 30 sekondes gestraf is vir vroeg wegspring.

Henko de Klerk neem sy eerste algehele oorwinning met die Jetta en volg dit met ‘n beskeie vierde op in die tweede uitdun om dan ook algeheel te wen. Alex Johnson omskep eerste en vyfde in tweede algeheel met die Red Bull Audi Quattro en word gevolg deur Ebrahim Levy in die Jive / Armien Levy Motorsport BMW M3.

Gavin Cerff, Spur VW Golf MkI, en Mike Venlet, MRD / Fastoil VW Golf MkI, verskaf een van die dag se vele hoogtepunte met ‘n verbete stryd om klas B oorwinning. Hul jaag soos een om die baan om uiteindelik in dieselfde volgorde te eindig.

Phillip Booysen bewys dat hy wel kalm en bestendig kan jaag deur die Belfreeze BMW 328i na oorwinning in klas C te neem met die Alfa Romeo GTV 3.0 van Ewald Weiland tweede en die Italoven VW Golf MkI van Basie Burger derde. Ernest Roos wen klas D in sy netjiese Executive Truth Verification BMW E36 met die Akwasol VW Golf MkI van Eugene van Zyl tweede en die Italoven VW Golf MkIII van Cedric Burger derde. 

Francois van Tonder eien klas e in sy Wingfield Motors VW Polo Vivo met Cody Alberts tweede in die pragtige Alfaholix Alfa Romeo GTV 2.0 en Brendan Moore derde in sy Tops Observatory / Belfreeze / Liqui-Moly VW Golf MkI.

Die stryd om oorwinning in klas F was ongetwyfeld die beste tweestryd van die dag met Devin Camons, MD Motor Parts / Steve Auto VW Golf MkI, feitlik geheg aan die Akwasol VW Golf MkI van Ryan Large. So maklik om altyd net die stryd om algehele oorwinning dop te hou terwyl elke klas ‘n wedren in eie reg is wat beslis verdien om raak gesien te word.

Twee motors wat nie die verrigtinge kon meemaak nie was die baie haastige M3 van Achmat Achmat en die pragtige Australiese V8 G&A Promotions Holden Commodore V8 van Gunter Drotschie. Inteendeel die G&A Promotions Opel Commodore V8 wat Gunter ook in die Mutlu reeks sou bestuur het ook nie die renbaan gehaal nie. Dit gebeur maar wanneer renmotors te lank stilstaan en nie gebruik word nie!

Die volgende ronde van die Wingfield Motors Power Series sal op Saterdag 5 September 2015 plaasvind op Killarney.