Extreme Festival gee Killarney weer atmosfeer!

Altyd goed om Saterdagoggend te groet met die wete dat die Stormers suksesvol was teen die verdedigende kampioenne en die wete dat die eerste aand van die gewilde Wynland Ovaalbaan Kampioenskap op Kleinplasie kon spog met 99 inskrywings. Dat die weer absoluut onverbeterlik mooi was het die keuse net soveel moeiliker gemaak tussen die oormaat keuses van watter byeenkoms om by te woon Saterdag.

Tydrenners moes vroegoggend rigting Swartland kies om die tweede ronde van die WP Tydrenkampioenskap in Malmesbury aan te durf terwyl die Nasionale MX byeenkoms op Zone 7 beslis ook aantreklik was en heelwat nader was in afstand. Die baie gewilde Stellenbosch Lugskou het gespog met die teenwoordigheid van Patrick Davidson in die asemrowende Mustang P51 en die SALM Silwer Valke en dan was daar natuurlik die tweede ronde van die Wynland Kampioenskappe met sowat 114 inskrywings wat Saterdagaand sou plaasvind – net anderkant die Helderberg in Worcester. En dan was daar natuurlik ook die goeie nuss dat die Historiese Motors amptelik die Dezzi Renbaan in Port Shepstone sou open! Natal het weer ‘n renbaan na Roy Hesketh op Paasnaweek 1981 toegemaak het – 34 jaar van droogte kom tot ‘n einde danksy Desmond Gutzeit se drome!

Dus was die enorme toeskouerstal by Killarney werklik bemoedigend en danksy die konstante verbetering van geriewe en alternatiewe aktiwiteite soos die uitstalling van verskeie klubs se motors op die renstelbaan en vertonings deur waaghalse en “drifters” het Killarney weer soos Killarney van ouds laat voel – daar was weer ‘n tasbare atmosfeer en dit het duidelik ook ‘n effek op die deelnemers gehad in elke kategorie want die wedrenne was van uitstaande gehalte.

Midas Clubmans Sedanmotors 2x 8 Rondes

Teen verwagtinge was dit die Midas Clubmans Sedanmotors wat teleurgestel het ondanks gesonde getalle op die baan self. Normaalweg het die stryd in klas A toeskouers op hul voete maar hierdie keer het die klas nie voldoen aan die verwagtinge. Clint Rennard en die G&A promotions VW Golf het die eerste uitdun algeheel gewen terwyl Alex Johnson die Executive Decisions – Red Bull Audi Quattro leer gras eet het in Malmesbury draai. Die tweede uitdun het Rennard teenspoed ondervind en het Johnson die geruite vlag eerste gehaal, wat die altyd bestendige Mansoor Parker met ‘n welverdiende algehele oorwinning vir die dag beloon het in sy klas B BMW E30 325.

Gavin Cerff moes inderhaas sy toermotor BMW E36 verruil vir sy getroue Yukon Spur VW Golf MkI en tweede plek algeheel was welverdiend. Mark “Smurf” Smith derde algeheel in die VW Golf MkI met Mike Venlet vierde in die ewe indrukwekkend haastige Fast Oils / Luza VW Golf MkI. Phillip Booysen verras deur klas C te wen in die Belfreeze BMW E36, maar hy is deurgaans eerlik gehou deur Basie Burger in die Ital Oven VW Golf MkI in elke uitdun. Die veteraan, Dirk Kruger, derde in die ex-Wesbank Toyota Corolla.

John Craig Snr geniet sy terugkeer met klas D sukses in die VW Polo Vivo met Ewald Weiland tweede in die netjiese Alfa Romeo GTV 3.2 en die verdedigende Midas Clubmans kampioen, Eugene van Zyl, derde in die Akwasol VW Golf MkI 1.8. Gunter Wurth mag dalk laat ingeskryf het maar op die baan was die Dam Weld BMW E36 bestuurder wakker genoeg om die klaswen voor Francois van Tonder se Efekto VW Polo Vivo weg te raap met Brendan Moore derdee in die BM Packaging / Belfreeze / Nissan CT VW Golf MkI.

Ernest Roos was dominant in klas F met die Executive Truth Verification / Van Niekerk Racing BMW E36 met Ryan Large tweede in die Akwasol VW Golf MkI en Samantha Wilson derde in haar pragtige Renault Laguna.

Crossley & Webb Sports & GT Motors 2x 10 Rondes 

Dawie Joubert is vinnig besig om meer as net ‘n irritasie te word vir die dominante Harp Motorsport Juno inskrywings, maar die “liquorice all sorts” Lotus Exige – Honda 2.4 Turbo word in die eerste uitdun getol. Dawie tree die Juno’s behoorlik aan in die tweede uitdun, maar word op die lyn geklop om uitdeindelik die dag derde algeheel af te sluit.

Francis Carruthers sit nie ‘n voet verkeerd in die kragtige Harp Motorsport Juno SS3 om algeheel te seëvier met die minder kragtige Harp Motorsport Juno CN van Steve Humble soos altyd in die skaduwee van ouboet. Dat hul egter rede het tot kommer is gewis ‘n feit want daardie geel Lotus is vinnig – baie vinnig. Die eerste wegspring posisie is behaal met ‘n rondetyd van 1min12:503 om die Sports & GT motors gewis die tweede vinnigste kategorie teenwoordig te maak op die dag en het hul beslis nie teleurgestel op die baan.

Craig Jarvis, Panacia Porsche GT3 en Nicky Dicks, Curvent International Porsche GT3 Cup, oudergewoonte indrukwekkend onderweg na vierde en vyfde plek algeheel.

Keith Fourie wen klas B in sy Porsche GT3 3.6 met die Advanced Packaging Technology Porsche GT3 RS van Gary Kieswetter tweede en die SSB Transport Porsche 917 Cup van André Brink derde. Die pragtige Weltevreden Apex Collection Martini Porsche Carrera RSR van Peter van der Spuy bewys dat klas C gewen kan word op drie wiele met die ewig bestendige Louis de Jager tweede in die Lola T212 Toyota 1.6 Replika en Gavin Gorman derde in sy VW Nardini 2.0.

Maarten Prins domineer klas D in die Martini Porsche GT3 Cup met die soortgelyke motor van Ryan Buda tweede en Sean McCarthy maak dit drie in ‘n ry met sy Storage Town Porsche GT3 Cup.
 
Midas Formule Ford Duratec 2x 10 Rondes

Ongelukkig het die enkelsitplek renmotors die afgelope tyd die reputasie gehad dat dit die gepaste tyd was om gou elders besig te raak terwyl hul wedrenne plaasvind. Groot sou die fout gewees het indien jy Saterdag die nuwe Midas Formule Ford Duratec renne sou misgeloop het. Dit is wat mens wil sien van die enkel sitplek renjaers!

Vyf motors op dieselfde sekonde, maar Matthew Merton neem die eerste plek op die rooster in met 1min15:44 in sy Hypress Mygale SJ08. Nicholas van Weeley verskaf egter die meeste aksie deur van meet af opwindend met selfvertroue aan die buitekant van Kaapstad draai na die voorpunt van die rits renmotors te beweeg.

Daar sal sekerlik lank debateer word oor wie te blameer was maar nadat Robert Wolk Nicholas se eerste poging aan die buitekant afgeweer het deur hom letterlik van die baan te druk het Nicholas terug geval om later weer aan die buitekant verby Wolk te beweeg. Eerste in die draai, maar Wolk het sonder meer teen Van Weeley geleun en weer probeer om die Van Diemen wyd te druk.

Nicholas het geregverdig sy posisie op die baan verdedig terwyl Wolk se Mygale wiele gesluit het met die Van Diemen. Nicholas het die indruk geskep dat hy effe van die versneller moes lig net om op die teer oppervlakte te probeer bly terwyl Julian van der Watt agter hulle dwars gegly het om verdere kontak te vermy. Met greep herstel het Nicholas weer versnel, maar met Wolk wat steeds teen hom leun het die Van Diemen se agterwiel onvermydelik met die Mygale se voorwiel kontak gemaak en is Nicholas van Weeley onserimonieel teen die spermuur aan die binnekant van die baan geslinger.

Nicholas van Weeley kon gelukkig ongedeërd uit die wrak van sy Magnificent Paints & Hardware Van Diemen RF07 klim, maar sy dag was verby. Die gat in die spermuur sal egter lank getuig van hierdie insident.

Julian van der Watt trek die meeste voordeel uit die insident om eerste verby die geruite vlag te jaag in sy Investchem Mygale SJ08. Sy deelname aan die Formule Libre wedren vroeër in die seisoen moes ook tot sy voordeel gestrek het, maar dit was nietemin ‘n goeie oorwinning met ‘n beste rondetyd van 1min15:175. Matthew Merton tweede in sy Hypress Mygale SJ08.

In die tweede uitdun was dit Wolk en van der Watt wat mekaar die stryd aangesê het en hierdie keer het Wolk die ren gewen met Van der Watt tweede en Merton derde. Julian van der Watt kon egter spog met algehele oorwinning in sy Investchem Mygale SJ08 met Mathhew Merton se soortgelyke Hypress motor tweede en Robert Wolk derde in sy Chemical Logistics / Investchem Mygale SJ08.

Dat die nuwe Duratec aangedrewe FF reeks oor geweldig baie potensiaal beskik lei geen twyfel nie en dit mag dalk net weer die aansien van die enkel sitplek renmotors op Suid Afrikaanse bodem herstel. Dit was indrukwekkend.

Rick Morris, Investchem Mygale SJ10, die beste van die bo - 50 - jariges met Allen Meyer, Van Diemen RF07, tweede.

Mike Hopkins Superfietse 2x 8 Rondes

Met die dubbele WP Superfiets kampioen, Ronald Slamet, in Spanjé besig om die vlag van Suid Afrika op internasionale vlak ten toon te stel, ondanks sy Namibiese agtergrond, was die fokus gevestig op die terugkeer van die ander internasionale stêr in wording, David Mcfadden.

Met die eerste plek op die rooster verdien met ‘n tyd van 1min11:938 was die Superfietse ongetwyfeld die vinnigste van enige kategorie teenwoordig en juis daarom was die stryd tussen die top vier motorfietse op die baan soveel meer indrukwekkend. Daar was nie terug gehou nie en is David McFadden behoorlik besig gehou tot by die geruite vlag. Volgens David het hy bloot deelgeneem om ren fiks te bly vir sy komende Britse Superfiets debuut, maar hierdie drilsessie sal hom ongetwyfeld slaggereed laat om net sy beste te lewer.

David wen wel beide uitdunne op die Stunt SA klas A Kawasaki ZX10R maar dit is Trevor Westman wat kennis gee dat hy ook met die Mad Mac’s klas A Kawasaki ZX10R sal kan wen in die toekoms deur twee keer as David se skaduwee oor die eindstreep te jaag.

Malcolm Rapson, Donford Motorrad Kawasaki ZX10R, en David Bolding, PJ One Oils Kawasaki ZX10R, en Karl Schultz, ASAP World Kawasaki ZX6, loop hul egter vas in diskwalifikasie deur met die aanvang van die tweede uitdun die kuipelaan onder die rooi lig te verlaat en dit ontneem hul van goeie resultate.

Hayden Jonas beindruk egter geweldig baie met derde plek algeheel op die ASAP World Kawasaki ZX6RR en word gevolg deur Gerrit Visser op die Calberg Hydraulics Kawasaki ZX10R, nadat Visser met 30 sekondes gestraf is omdat hy vroeg weggespring het. Jonas se 600cc teenstander, André Calvert, op die KC Transport / Leslies’s Gifts Kawasaki ZX6R vyfde algeheel met Alex van den Berg eerste in klas B en die derde 600cc tuis op die Wicked Tuning / Viper Motorcycles Kawasaki ZX6R. Keagan Smith tweede in klas B met die Kawasaki ZX6R en derde plek word ingeneem deur Xander du Plessis op die Hypower & Cascade Kawasaki ZX6R.

In klas C klop Nick van Zyl, Kawasaki ZX10R, vir Wayne Arendse, Honda CBR600RR.

Engen Volkswagen Cup 2x 10 Rondes

Die Engen Volkswagen Beker stel min teleur op die baan en weereens was die reeks verantwoordelik vir baie skouspel en verrassende resultate. Mathew Hodges het die eerste plek op die rooster ingeneem met ‘n tyd van 1min26;970 maar dit was Sheldon van der Linde wat sonder veel moeite in die niet verdwyn
het om die eerste uitdun gemaklik te wen in die Champion Racing VW Polo Vivo.
In die tweede uitdun spring hy egter swak weg en verdwyn in ‘n stofwolk van die baan in die eerste draai om uiteindelik 15de te eindig. Mathew Hodges hou egter die Meesters se naam hoog deur uiteindelik die tweede uitdun te wen en daarmee ook die eerste plek algeheel in die Makapano / Phoenix / 959 Paneelkloppers VW Polo Vivo. As die borge se name dalk ligter was kon hy dalk selfs gemakliker gewen het?

Daniël Rowe behaal die tweede plek in sy Ferodo Racing VW Polo Vivo en word gevolg deur die tweede Meester, Trevor Bland, in sy PG Glass / Alpine Motors VW Polo Vivo. Matt Shorter vierde in sy Champion Racing VW Polo Vivo met Nian du Toit in ‘n indrukwekkende vyfde plek op sy debuut in die reeks. Die top se afgerond deur Bradley Liebenberg in die tweede Ferodo Racing VW Polo Vivo.

Tasmin Pepper het een van die vele insidente van die renne beleef toe sy hopeloos te vinnig in Engen draai ingejaag het en die PG Glass / Plastomark / Blue Label VW Polo Vivo wetenskap gefnuik het deur steeds regop te bly.

Indrukwekkend was die feit dat die eerste elf motors tye op dieselfde sekonde gedeel het, maar vir toeskouers is die skommeling van wegspring posisies egter verwarrend want die trekking kan potensieel enige voordeel neutraliseer.

Lyle Ramsay het hom by ‘n redelik eksklusiewe groepie renjaers aangesluit toe hy die agteruit deur die spermuur aan die onderpunt van die agterste pylvak gebars het in sy Monroe VW Polo Vivo. 10x SA tydrenkampioen, Serge Damseaux, het die Toyota Conquest RSi bietjie verder af parker en Mark de Nobrega spog met diie feit dat hy sy Formule GTi ook deur die muur kon druk.  

V8 Masters & Makita Supercars 2x 8 Rondes

As proefneming is die V8 Meesters en die Makita Supermotors gekombineer met twintig sekondes die gaping van die groen lig tussen die twee reekse op die baan.

Richard Schreuder neem die eerste posisie in op die rooster met 1min16.528 in die TRS Construction APV347iS duidelike kennis dat hy ernstig was en hy manipuleer die rollende wegspring perfek om bykans die hele veld aan die slaap te vang. Almal behalwe Marcel Angel en dit is dan ook Angel wat eerste verby die geruite vlag jaag in sy Autohaus Angel APV347iS met Shreuder tweede en Jurgen zu Bentheim derde in sy Novel Ford APV347iS. Jurgen het egter probleme ondervind met die Novel Ford APV347iS se ewenaar en dit sou hom uiteindelik ook uit die tweede uitdun laat onttrek.

Angel jaag voor met die aanvang van die tweede uitdun, net om sonder brandstof te gaan staan? Iemand se ore moes hierdie insident ervaar! Sonder Jurgen was dit net Craig Jarvis wat teenstand kon bied teen Richard Schreuder en ‘n sekere oorwinning wink vir die TRS Construction inskrywing, maar met die geruite vlag amper in sig tol Richard die motor. Die geluksgodin is egter aan sy kant en No4 wen die dag algeheel, maar hy sal lank herinner word aan hierdie glipsie! Die Panacea APV347iS van Craig Jarvis is tweede algeheel en Franco Donadio eindig derde. Nie hul beste vertonings nie. Brian Evans wen die Silwer kategorie met Robert Franco tweede en Gerhard Cloete derde.

Nick Adcock, Rico Barlow Racing Opel Supercar, wen die Makita Supermotors algeheel met Jarryd Evans, Finacta Consultants Opel Supercar, tweede met Brad Wadeley, Charl Electrical Engineering Opel Supercar, derde. Die uitslag deel egter nie al die gebeure op die renbaan nie want Dayne Angel, Autohaus Angel Opel Supercar, word tydens die eerste uitdun deur Ryan Mccarthy, Hyper Lighting Opel Supercar, van die baan gehelp in die kinkel voor die kuipe en hoewel daar nie veel skade gedoen is nie was beide se aanslag op die eerste plek iets van die verlede.

Dayne het sy emosies redelik visueel ten toon gestel, maar dit was ‘n wedren insident wat iewers in die toekoms herhaal sal word, die kanse van kontak wanneer daar so naby mekaar gejaag word is bykans onvermydelik. Die bonus was dat Dayne Angel absoluut meesterlik vertoon het in die tweede uitdun om van laaste tot eerste te vorder binne bestek van slegs agt rondes! Ongetwyfeld die bestuurder van die dag.

George Williams wen die Silwer kategorie in sy Woodwork Specialists Opel Supercar en die Brons afdeling word gewen deur Ashraaf Fredericks in die WPMK/Lotto Dev Opel Supercar. As troosprys kon Ryan McCarthy darem spog met die eerste posisie op die wegspringrooster met ‘n tyd van 1min22:794 in sy Silwer kategorie Hyper Lighting Opel Supercar.

As kombinasie het die twee reekse mekaar goed aangevul en is die potensiaal beslis teenwoordig om in die toekoms selfs meer indrukwekkend te wees.

Nasionale Produksie Motors 3x 8 Rondes

2015 word as interim jaar beskou terwyl die nasionale kampioenskap reeks vere regskud om vanaf 2016 weer na vore te tree met ‘n waardige skouspel en intussen is daar gepoog om al die motors in die produksiemotor kampioenskap op ‘n gelyke speelveld te laat meeding.

Hennie Groenewald het die eerste plek op die wegspringrooster ingeneem met 1min18;982 in die Sasolracing Audi S4 3L, maar dit was Graeme “Grumpy” Nathan wat almal laat regop spring het deur sy VW SA Golf GTi Turbo slegs 00:00.120 stadiger om Killarney te stuur! Ongelukkig was sy enigste ander prestasie om Gennaro Bonafede se Sasolracing Audi S4 3L onserimonieel in die natuurskoon in te help en daarna het hy ook op eie stoom van die baan verdwyn.

Bestendigheid was deurslaggewend en dit was Hennie Groenewald wat na afloop van die drie uitdunne met die louere weg gejaag het in die Sasolracing Audi S4 3L met Gary Formato wat baie teenspoed tydens voorbereiding omskep het in tweede posisie algeheel in die SMD Ford Focus ST. Punteleer voorloper, Michael Stephen, het weereens gewys waarom hy sy naam soveel keer op die titel kon skryf deur ‘n waardevolle derde plek algheel los te jaag in sy Engen Xtreme / Terry Moss Racing Audi S4 3L.

Simon Moss moes met vierde plek tevrede wees in die tweede Engen Xtreme / Terry Moss racing Audi S4 3L met Michael van Rooyen vyfde in die “Lightning McQueen” Williams Hunt Chevrolet Cruze 2L. Die top ses afgerond deur Shaun Duminy in die tweede SMD Racing Ford Focus ST.

George Smalberger die wenner van klas X in sy Shield VW Golf Gti met Jordan Sherrat tweede in sy SMD Racing Ford Focus ST.

Junaid Slamang, Achmat Achmat en Niyaas Modack het aangesluit as addisionele klas by die produksiemotors in hul haastige BMW Clubman renmotors en Modack het beindruk met sy BMW. Slamang se BMW moet eenvoudig kwalifiseer as een van die aantreklikse motors teenwoordig op die dag.

Algemeen

Carl Scholtz was 'n welkome besoeker vanuit Australië en die blywende indruk van die dag was dat Killarney weer gespog het met daardie kenmerkende atmosfeer van ouds.