Japie eien 3de Tara Titel

Wie sou kon raai dat een man se visie ‘n nasie se trots sou word? As stigterslid van die Windhoek Motorklub het Dennis Kent in 1969 daad by woord gevoeg deur ‘n motor tydren uit eie sak te organiseer. Sy beste vriend was ‘n Siamese kat genaamd Tara en tesame met Peter Gauss en Peter van der Merwe is die Tara Tydren in 1969 vir die eerste keer aangebied. Straf, stowwerig, warm en uitputtend die reputasie wat soos ‘n veldbrand versprei het en deelnemers vanuit veral Suid Afrika gelok het.

Met oorwinning op die 1969 in die Transvaal Trial en die 12de Total Internasionale Tydren in Suid Afrika agter die name van Chris Swanepoel en Gus Crous in hul Renault R8 Gordini slaag die Namibiërs, Chris Liebenberg en André de Jager, daarin om ook die 1ste Tara Tydren te wen in ‘n Renault R8 Gordini. Die Namibiese kombinasie van J.B.H “Pix” von Pritswitz en Larry Kritzinger wen die 1970 Tara Tydren in hul VW Kewer en in 1971 maak die Nambiërs weer so met Dieter Gauss en Udo Weck die wenners in hul Ford Capri 3.0 V6.

1972-73  is dit die Suid Afrikaanse kombinasie van Louis Cloete en Willem van Heerden wat die eerste span word om twee Tara titels agter hul name te skryf, onderskeidelik met ‘n Ford Escort en Opel Manta. In 1974 is elke lid van die Windhoek Motorklub getaak om ‘n gedeelte van die roete te organiseer en die kombinasie daarvan word gewen deur Jannie Kuun en Peter Gauss in hul Toyota. Die Gauss naam nou verteenwoordig as oorwinnaars as beide bestuurder en navigator.

Vir 1975 verskuif die klem na Windhoek en Rehoboth en die byeenkoms word dit die Total Tara Tydren, om een van die mees geskiedkundige tydren / borgskap verhoudings van stapel te stuur en heel gepas was dit Buks Visser en Ingo Kieserwetter wat oorwinning smag vir Namibië in hul P510 Datsun 1600 SSS. Tara se naels was teen hierdie tyd vlymskerp en elke jaar se uitslag het gepaard gegaan met verhale van hartseer, teleurstelling, beproewing en vir een enkele kombinasie soete oorwinning!

Vir Suid Afrika voeg Louis Cloete (1972 en 1973), Geoff Mortimer (1976 en 1978), Sarel van der Merwe (1977 en 1981), Roelof Coertzen (1993 en 1994), Serge Damseaux (1996 en 2000), Jean-Pierre Damseaux (2007 en 2008) en Hergen Fekken (2009 en 2010) elkeen twee oorwinnings agter hul eie legendariese status terwyl Namibiërs Laurence Koch (1984 en 1985), Llewellyn Anthony (1988 en 1997), Richard Himmel (1999 en 2006), Gerhard Truter (2003 en 2004) self nie op hul laat wag het nie. Die totaal vir dubbel oorwinnings SA 7 teen Nam 4 aan die einde van 2010.

André Vermeulen die eerste navigator om drie Tara titels agter sy naam te voeg met oorwinnings in 2005 (Ettiene Lourens), 2007 en 2008 (Jean-Pierre Damseaux), maar Pierre Arries laat nie op hom wag nie en ewenaar die rekord met oorwinnings in 1996 (Serge Damseaux), 2009 en 2010 (Hergen Fekken).

Soveel meer as net ‘n tydren oorwinning was hier op die spel. Hoewel daar elke jaar voorsiening gemaak word vir die eerste Nambibiese kombinasie tuis was nasionale trots tasbaar in die hele atmosfeer rondom die Total Tara Tydren en eerste plek algeheel is nie sonder verbete teenstand afgestaan aan enigeen buite Namibië.

In 2011 wen jong Wilro Dippenaar die 43ste Total Tara met Morné du Toit as navigator in hul Total Toyota Run X 4x4. Pa, Dippies, wenner as navigator in Tara 16 en 17 saam met Laurence Koch. Willie Dames en Armand du Toit maak weer so vir Namibië in 2012 met die ex-Giniel de Villiers linkerstuur VW Polo 4x4. Met ‘n Namibiese agtergrond maak Japie van Niekerk en Gerhard Snyman hul sukses in 2013 en 2014 bykans aanvaarbaar in die NAD Ford Fiesta 4x4.

Richard Slamet en Wiets Coetzee word van ‘n prag oorwinning ontneem toe die 47ste Total Tara Tydren uitslag bevraagteken is en uiteindelik nietig verklaar is. Onder leiding van Richard Slamet, voorsitter van die Windhoek Motorklub, het Tara egter wonderbaarlik haar terugkeer gemaak in 2016 , weliswaar sonder Total maar veel sterker in baie opsigte. Die feit dat die 48ste Tara Tydren hoegenaamd plaasgevind het was prysenswaardig, maar met die 50ste herdenking van ‘n legendariese byeenkoms in die vooruitsig het elkeen bygedra tot die suksesvolle terugkeer van Tara, soos dit ‘n trotse kat betaam.

Japie van Niekerk en Robin Houghton was oorgehaal vir sukses met veelvuldige SA bestuurders kampioen, Mark Cronjé, teenwoordig as spanbestuurder vir die NAD Ford S4 Fiesta 4x4 en die span het absoluut geen foute gemaak onderweg na ‘n geskiedkundige derde bestuurders oorwinning vir Japie van Niekerk en eerste navigators titel vir Robin Houghton. Wilro Dippenaar en Riaan van der Westhuizen het moedig slag gebied in hul Shell V Power Toyota Auris 4x4. Slegs 26 sekondes het die Ford en Toyota van mekaar geskei maar eersgenoemde het altyd in beheer van die situasie gelyk, hoewel die versengende hitte en min tyd agter die stuur wel sy tol geeis het van die bestuurder.

Jaco Redelinghuys en Cecil Koorts het bykans ongesiens gevorder tot derde posisie algeheel in hul ex-Piet Bakkes S3 Gobabis Toyota Auris 4x4. Gereelde navigator Dries Booysen moes kort voor die aanvang van die tydren onttrek toe hy ongesteld geraak het en Cecil Koorts het die sitplek ingeneem nadat Oswaldo Mendes sy Skyway Subaru Impreza Turbo 4x4 moes onttrek nadat die diensspan voertuig onderweg na die tydren onklaar geraak het.

Derde algeheel het die uiters beskeie Jaco Redelinghuys as die 2016 Namibiese Tydren Kampioen Bestuurder bevestig en hy sal in 2017 te siene wees in die Toyota Yaris waarmee Leeroy Poulter die SA Kampioenskap domineer het.

Allan Martin, 2013 Namibiese Tydrenkampioen, en Melvin Gous vierde algeheel in hul J&P Hydraulics S3 VW Polo 4x4 met Willem en Mandi Hugo vyfde in hul S4 Griffin Transport Subaru Impreza 4x4 Turbo. Vir Willem ‘n bykans groter prestasie as sy eie oorwinning as navigator saam met Theo Coetzee in 1989. As die oudste bestuurder en die jongste navigator was hierdie Pa en dogter kombinasie met reg trots op hul prestasie.

Broers, Jannie en George Coetzee, het ook heelwat tyd afgestaan met meganiese probleme op hul ratse S2 Compass Walvis Bay Aluminium VW Polo, maar in die gees van Tara voortgejaag om uiteindelik sesde algeheel en 1ste in klas te eindig. Genoeg om aan George die titel as die 2016 Namibiese Navigators Kampioen te besorg.

Gert Liebenberg en Johan Thiart het hul sesde Tara Tydren afgesluit met ‘n bemoedigende sewende plek algeheel en derde plek in klas met die V8 Lexus aangedrewe Nissan Hardbody. As daar ‘n toekenning was vir die voertuig wat die mooiste geklink het langs die lyndrade van die onderskeie sneltrajekte het hierdie V8 loshande gewen, maar daar is met redelike respek deur die draaie gery.

Etienne van den Heever en Willy van Wyk het self vasbyt getoon onderweg na agtste posisie algeheel en derde plek in S2 met die ex-Oswaldo Mendes VW Golf IV 2.0. Ongelukkig sal Etienne eersdaags verhuis na Gauteng en is hierdie motor tans in die mark. Vir Hanré Myburgh en Geon Ellis het ‘n bitter 2016 positief afgesluit deurdat hul klas S1 kon wen en negende algeheel uit die stryd kon tree in die Myburgh Motorsport VW Polo 1.6. Na vele teleurstellings beslis hul hoogtepunt van die jaar.

Marco Luis en De Wet du Plessis het met verskeie geleenthede gedink hul tydren is iets van die verlede as gevolg van erge oorverhitting, maar die Zenium Motorsport S4 Subaru Impreza 4x4 Turbo het wonderbaarlik elke aanslag oorleef om uiteindelik tiende algeheel te eindig. Peer Röhm en Eugene Marais nog ‘n kombinasie wat verlig was om die eindpunt te sien in hul S1 Toyota Auris 1.6, 11de algeheel en tweede in klas welverdiend. Pieter Greeff en Steven Robinson 12de algeheel en derde in S1 met hul Seal Consulting Engineers Toyota Corolla RXi 1.6. Spanmaats Jan Everson en Fanie Botes ongelukkig om nie eens die wegspring te haal met hul Seal Consulting Engineers VW Polo FSi 2.0 16v.

Die finale span om die eindpunt suksesvol te haal was Tinus Malan en Paul van Niekerk in hul netjiese Atlas Copco S2 Toyota MR2. Beslis nie ‘n algemene gesig in tydrenne, maar beslis baie aantreklik.

Richard Slamet en Wiets Coetzee was oorgehaal om die teleurstelling van 2015 met ‘n tweede algehele sege te verwerk, maar oorverhitting het hul ongelukkig genoop om die I&S Freight Services S3 Toyota Run X 4x4 na veertien sneltrajekte te onttrek. Dick Cornelissen en Jaco Wiese moes ook die aftog blaas in die ex-Richard Himmel S4 Star Body Works Subaru Impreza STi WRX 2.0 4x4 Turbo nadat die koppelaar genoeg geroep het. Dit mag egter dalk net wys wees vir die opposisie om die toekoms van hierdie motor fyn dop te hou want daar is interessante gerugte.

Rolf en Kai Pretorius het twaalf trajekte voltooi alvorens hul die unieke OR Toyota Turbo Bakkie moes onttrek. Rolf het die Tara Tydren in 1986 gewen met sy broer Hans as navigator en was vyf keer die Namibiese Tydrenkampioen. Kai en sy tweeling suster, Katja, nou om die beurt navigator vir Pa. Verwag om Rolf teenwoordig te sien in Tara 100.

Die hakskeen jagter het ongelukkig ook nie ‘n gelukkige 48ste Tara Tydren geniet nie. Roland Himmel en Juan Erlank het uiteindelik ontdek dat die feitlik onstuitbare S1 Toyota Etios R2 1.5 wel faalbaar is wanneer daar redelik ongenadiglik op die neus geland word en hul was na vyf trajekte gereed vir ‘n koue stort.

Jay-Dee Kessler, seun van die 1990 Tara wenner Uwe, en Willem Wessels was selfs vinniger skoon nadat hul S1 Toyota Conquest net drie sneltrajekte kon voltooi. Ronald Slamet, broer van Richard, is veel beter bekend vir sy talente op die sug van Superfietse in Suid Afrika, maar kon nie die uitnodiging weerstaan om die Oswaldo Mendes S2 VW Polo Classic in tydrenne te kom beproef nie. Feitlik standaard was die enigste doel om die eindpunt te behaal en met Lesley Morkel as navigator het hul 14 van die 21 sneltrajekte voltooi alvorens die oorverhitte enjin genoeg geroep het.

Jacques en Leon Botha was nog ‘n inskrywing van wie baie verwag is in hul ex-Schalk Burger / Dick Cornelissen S4 Afrideca Plant Hire Subaru Impreza Sti WRX 2.0 Turbo 4x4. Die feit dat Leon weer langs Jacques ingeskuif het vir ‘n tydren spreek boekdele, weet net nog nie presies watter hoofstukke, maar dat hul ernstig sou wees is nie te betwyfel nie. Geen amptelike tye is aangeteken nie so net die Botha seun en Pa kombinasie sal werklik weet hoeveel van ‘n bedreiging die terugkeer van hierdie motor inhou vir die opposisie. Tweede plek is egter nie baie populêr in hul terme nie.

Die Windhoek Motorklub en Vriende verdien egter groot lof vir die wyse waarop hul, onder leiding van Anja Lingner, daarin geslaag het om Tara haar Namibiese eer ten volle te laat herstel sodat die legende kan voortleef.

Daniel Tjongarero, President van die Namibiese Motorsport Federasie, het Tara 2016 beskryf as die suksesvolle restourasie van ‘n klassieke motor en daardie herwonne integriteit sal verseker dat die kat jaar na jaar sal terugkeer!

Op die 49ste Tara 2017!