Juno wen Ginetta beindruk

Event: 
African 9 Hour

Nog nooit tevore het twee 9 Uur Uithouwedrenne terselfdertyd in dieselfde motorsport kompleks plaasgevind nie, nêrens in die wêreld! Die WPMK maak geskiedenis deurdat beide die Africa Endurance Series 9 Uur en die ASAP 9 Uur vanaf 12h00 middag op 12 Desember 2015 met sukses voltooi kon word. Die hoofbaan gasheer vir die renmotors en die renstelbaan vir die 150cc motorfietse.

Antonio De Sousa “Tony” Viana, SA motorsport legende sou sy 70ste verjaardag op 12 Desember 2015 gevier het, maar hy het ons op 30 September 1993 verlaat. Reën by Killarney word egter steeds volgens die Tony koppie rigting Blouberg evalueer en vroegoggend was dit duidelik dat die weer sou opklaar.

1215.33km teen ‘n gemiddelde snelheid van 134.72km/h het Francis Carruthers (Skotland), Nick Adcock (Engeland) en Johan Engelbrecht (Suid Afrika) in staat gestel om hul onoorwonne rekord op die Killarney renbaan gestand te doen deurdat hul die geskiedkundige African Endurance Series 9 Uur wedren op dominante wyse kon wen in die 2006 Groep CN Harp Motorsport klas R Juno SS3. Hul voltooi 372 rondes van die 3.267km Killarney Internasionale Renbaan om die opposisie met vyftien rondes te klop, oftewel 49.01km!

Tweede plek nietemin ‘n merkwaardige prestasie vir die Team Africa Le Mans trio van Sarel van der Merwe (SA), Dr Greg Mills (SA) en Jan Lammers (Nederland) in hul splinternuwe klas V / GT4 Ginetta 55 V6 3.7. Nooit sou mens dink dat hierdie motor kort voor die aanvang van hierdie byeenkoms in SA aangeland het want die motor voltooi die 9 Uur sonder noemenswaardige insidente om nie net die klaswen te verower, maar tweede posisie algeheel asook oorwinning op Verrigtings Indeks.

Met 14 SA Motorsport titels agter sy naam asook oorwinning in die 1984 Daytona 24 Uur het Sarel van der Merwe absoluut geen bekendstelling nodig nie, maar wanneer die 69 jaar jonge renjaer die Ginetta aanwys as die motor met die beste hantering wat hy nog in sy loopbaan ervaar het is dit beslis ‘n betekenisvolle stelling.

As kleinseun van die voor oorlog SA motorsport pionier William Arthur Frank “Billy” Mills het Dr Gregory John Barrington “Greg” Mills, Direkteur van die Oppenheimer Brenthurst Foundation, sy motorsport erkenning verdien as skrywer van verskeie SA motorsport titels en bestuurder van klassieke renmotors. Nou is die droom om Team Africa Le Mans te laat meeding in die ikoniese Le Mans 24 Uur wedren en hierdie uitslag was beslis ‘n stap in die regte rigting.

Johannes “Jan” Lammers is ook reeds’n bekende gesig in Suid Afrika en as die 1988 Le Mans 24 Uur wenner was die 59 jarige Nederlander ‘n welkome toevoeging tot die Africa Le Mans span. Jan Lammers deel ‘n besonderse eer met legendes Enzo Ferrari (Italië) en Juan Manuel Fangio (Argentinië) as ere lid van die British Racing Drivers Club (BRDC).

Daar was egter ‘n mate van geluk betrokke vir die nuwe span deurdat die Simon Murray Racing klas V Porsche GT3 Cup 3.6 van Simon Murray, Craig Jarvis en Andrew Culbert hul weg oopgejaag het vanaf hul tiende posisie op die wegspring rooster tot tweede algeheel, net om na 8.5 uur aan die wedren te onttrek met vermoedelik ratkas probleme. Hoewel hul met 333 rondes genoeg gedoen het om op afstand steeds vierde algeheel te eindig het die reêls vereis dat die motor die geruite vlag moet ontvang om in die uitslag geklassifiseer te word. Bitter resultaat vir ‘n werklik indrukwekkende vertoning.

Vir die Fourie broers, Keith en Gary, en spanmaat William Luzmore was dit egter die geleentheid om hul Fourie Racing / Keigar klas V Porsche GT3 3.6 tot derde posisie te laat opskuif en hul ontvang die geruite vlag welverdiend na 346 rondes met die veel ouer, klasieke, M.I.Equipment klas W Porsche 911 RS 3.0 van Stefan Puschavez en Peter Jenkins vyfde algeheel op 304 rondes. Hul het die ren in die vyftiende plek begin.

Duncan en Graham Vos het die ren as sterk aanspraakmakers op algehele oorwinning begin vanuit die derde posisie op die rooster maar hul 2004 Ecurie Zoo klas R Juno SS3 Jaguar 3.0 het gesukkel met oilie toevoer probleme en hul moes uiteindelik tevrede wees met die vyfde plek algeheel op 302 rondes. Die enigste vertroosting die feit dat hul kon spog met die vinnigste rondetyd in die wedren met 1min14.763 oftewel 157.313km/h gemiddeld tydens die 61ste ronde.

Die Fantastic Racing klas P Shelby Can Am Nissan 3.5 van Elna Croesser, Jon Wilson en Doug MacDonald sesde op 299 rondes en die eer dat hul span die top vroue bestuurder ingesluit het. Sewende plek was bevredigend vir die Alfa Romeo Suid Afrika span van Theo van Vuuren, Bradley Scorer en Martin Botha maar ook teleurstellend want die Alfa Romeo GT 3.2 se aanslag op die Verrigtings Indeks is deur ‘n ongeluk op die renbaan ontsier en hul het baie tyd verloor met die herwinning en herstel van die motor. Ironies genoeg kan meeste van die spanne sekerlik redes verskaf waarom hul ook beter sou kon doen!

Een van die ren se indrukwekkende vertonings was die Taylon Motorsport klas Y Birkin 7 1600 wat uiteindelik in ‘n uitstekende agtste posisie algeheel geeindig het. Sekerlik die kleinste motor in fisiese dimensies sowel as kapasiteit, maar groot in vasbyt het Jeffe Gable, James Forbes en David Jermy groot respek afgedwing tussen die swaar gewigte van die sport.

Mike Schmidt en Bruce Avern-Taplin het oudergewoonte ook die rondes moeiteloos voltooi met hul Gumtree klas F Toyota Corolla 1600 16klepper om hul telling op 283 af te sluit in die negende posisie algeheel. Bruce die man wat destyds veelvuldige SA tydrenkampioen Serge Damseaux se baan renmotors gebou het en goeie voorbereiding weereens deurslaggewend in die 9 Uur.

In ‘n stryd binne die stryd het Mike Schmidt die botoon gevoer oor sy goeie vriende Steve Truter en Michele Lupini, maar dit beteken slegs dat die stryd volgende keer
meer intens gaan word! Na nege uur was die skeiding tussen die Comsol / Norbrake klas G VW Polo 2.0 van Gavin Ross, Iain Stevenson, Derick Smalberger en die Nathans Motorsport / Auto Week klas G VW Golf MkI 1.8 van Zander Roos, Steve Truter, Ernst Viljoen minder as een ronde. Sekerlik die aanskoulikste stryd om klasoorwinning en Ross die held van die wenspan met ‘n puik finale sessie agter die stuur.

Die netjiese klas D Hendok VW Golf MkI 1.9 van Deon Crous, Ronald van Rensburg, Terence Ehlers neem die twaalfde plek in na 247 rondes met die aantreklike, klassieke replika, Mitsubishi Electric Endurance Team klas R Porsche 910 3.0 van Mike Altona, Pieter Zeelie, Steve Pickering dertiende met 223 rondes.

Die Tyre Plus klas G VW Polo Classic 2.0 van Chris Hart, Steve Hart, Gerald Wright neem die veertiende plek in op 219 rondes met die Fantastic Racing / AidCall 247  klas P Shelby Can Am 3.7 van Mike Verrier, Brian Algar, Darryn Lobb vyftiende met 208 rondes voltooi.

In 1984 het Tony Martin soet oorwinning gesmaak in die Rolex Daytona 24 Uur as spanmaat van Sarel van der Merwe maar hierdie keer moes hy met sestiende plek algeheel tevrede wees met Martin Wright en Paul de Klerk as spanmaats in die imponerende Backdraft Racing klas V BDR4000 V8. Spanmaats Mike McLoughlin, JP Bredenhann, Mark Owens sewentiende in die turbo aangejaagde Backdraft Racing klas U BDR4000 V8. Die finale span tuis op 171 rondes oftewel 558.66km  voltooi in nege uur.

Vir die Charter Finance span van Peet van der Walt, Gavin Cerff en Clint Rennard was die naweek redelik teleurstellend want 227 rondes voltooi in die CAR Centre klas G VW Polo Classic 1.8 kon potensieel veertiende plek algeheel beteken het, en hul was boonop sterk aanspraakmakers op klasoorwinning en Verrigtings Indeks.

Die frustrasies het egter heelwat vroeër in die week begin toe hul aanvanklike Porsche 930 inskrywing onttrek moes word met enjin probleme. Op die vooraand van die ren lei Peet van der Walt verdere skade deurdat twee ren oorpakke, sy Bert Upton valhelm en vier renbande op vellings gesteel word. Die oorpakke en valhelm is persoonlik identifiseerbaar en is vir die dief van geen waarde.

Vir die Campos familie het dinge ook nie soos beplan verloop nie. Rui Campos het die Hollard / Campos Transport klas N Shelby Can Am met ‘n Ford 5.0 V8 enjin toegerus, spesiale brandstoftenks aangebring têr voorbereiding vir die 9 Uur en met die eerste plek op die wegspringrooster was pa Rui en seuns, Jason en Keegan,
met goeie rede vol vertroue vir ‘n goeie resultaat. Al gehoor van Murphy? Dinge werk nie altyd soos beplan en hul moes die aftog blaas met terminale ratkas probleme na slegs 79 rondes. 

Die Jive Team / Auto Week trio van Ebrahim Levy, David Walker, Michele Lupini nog ‘n span wat baie potensiaal getoon het in hul klas G VW Golf MkI 1.8, maar met leë hande moes terugkeer nadat die motor se ewenaar na 211 rondes genoeg geroep het. So naby en tog so vêr.

Vir die Fantastic Racing klas P Shelby Can Am 3.7 van Michael Jensen, Donovan Roscoe, Niel Lobb eindig die ren na 183 rondes op ‘n baie warm noot toe die motor se enjinruim in vlamme uitbars en daar inderhaas tussen KFm en Engen gestop moes word om die vlamme te blus. 

Tim Reddell en Sean MacKay was selfs minder gelukkig gewees deurdat hul nie een enkele ronde kon voltooi in hul Path Plastics klas V Porsche 944 Turbo 2.5. Vir Colin Plitt, Dawie Joubert, Mark Patterson het die ren teen die spermuur in Rhodes Sweep ten einde geloop, hul 2008 Tricera Investments klas S Juno SS3 Honda K20 effe ongemaklik sonder die linker voorwiel. Die 2006 Rico Barlow Racing / AidCall 247 klas R Ligier JS49 Honda K20 van Thomas Reib, Sean Greve, André Bezuidenhout het hul ren in die spermuur buite Engen afgerond nadat ‘n rempyp gefaal het.

Van die 27 spanne wat die ren aanvanklik aangedurf het is slegs sewentien uiteindelik in die finale resultaat erken. Die getalle en groot name het dalk nog ontbreek, maar dat die Africa Endurance Series op die regte spoor is lei geen twyfel nie en in die bekwame hande van Roger Pearce kan die glorieryke jare van die Springbok reeks beslis herleef word. 

Om enige uithouren as toeskouer te waardeer verg ‘n mate van in diepte navorsing in die aanloop tot die ren en dan aktiewe monitering van posisies en gebeure terwyl die wedren plaasvind. Ongelukkig het televisie toeskouers lui gemaak en word dit as te veel moeite beskou, jammer hul sal nooit besef wat hul misloop nie. Daar is genoeg taktiek, teleurstelling en vreugde betrokke in enige uithouren om boeke te skryf daaroor.

Toets dit gerus met die volgende ronde van die African Endurance Series.

Die enigste teleurstelling van die dag was die feit dat as individu dit eenvoudig onmoontlik was om beide wedrenne aandagtig te volg. Komplimente nietemin aan  Jonny Towers, David McFadden, Kewyn Snyman wat die 33ste ASAP Uithouren vir motorfietse oortuigend gewen het en boonop ook ‘n nuwe baanrekord opgestel het met hul Honda RST150.

Ook gelukwense aan veteraan, John Craig Snr, wat nou spog met deelname aan elkeen van die 33 uithourenne tot op datum. Dit is ware toewyding!

Die AES300 sal op 12 November 2016 terugkeer na Killarney. Tans verteenwoordig die 300 minute en sal die ren oor vyf uur plaasvind vanaf 16h00 tot 21h00.

AES Enkelsitplek Renne 2x8 Rondes

Die eerste van twee uitdunne vind in nat toestande plaas en verskeie spanne word onkant betrap, dit reën nie Desember maand in die Kaap nie? Boonop vind beide renne vroegoggend plaas wat verder temperatuur probleme veroorsaak vir die sensitiewe enkel sitplek renmotors.

Mike Verrier tree as die algehele oorwinnaar uit die stryd na twee agt ronde uitdunne met sy Formule VW en word gevolg deur die ervare Claudio Piazza-Musso in sy RaceDriverSA Formule Ford Z Tec en die klassieke ex-Eddie Cheever Formule Atlantic Martini March 79B van Charles Arton. Jurie Swart vierde in die ex-Joshua Dolinschek Fomrule V met Garth de Villiers vyfde in sy Boss Paving Formule VW en in die sesde plek was dit Reg Anderson in die pragtige Formule GTi Swift. Dee-Jay Booysen die laaste om sestien rondes te voltooi in sy Formule M Dico / Easy Skips renmotor.

Hoewel 22 inskrywings op papier baie belowend gelyk het kon die renne weereens nie daarin slaag om werklik te oortuig nie. Die teenwoordigheid van Claudio Piazza-Musso was beslis ‘n hoogtepunt, maar dit is nodig vir iemand om hierdie talent aante durf. Dawie Joubert het sy eerste verskying gemaak in ‘n Motorvia Formule VW en die tweede ren sodanig oorheers dat hy die ander deelnemers in soortgelyke motors eintlik oorskadu het.

Charles Arton, Fred Phillips, Didier Koeul het gesorg vir klassieke aanklanke maar  Dawie Joubert, Claudio Piazza-Musso en Dee-Jay Booysen was al wat regtig indruk gemaak het.