Kelvin van der Linde doen dit weer!

Kelvin van der Linde is weer die Bridgestone SA / SA Gilde van Motorjoernaliste se Motorsportman van die Jaar.
.
Kelvin van der Linde, 18, die heersende Bridgestone SA /SAGMJ Motorsportman van die Jaar, is vir die tweede jaar opeenvolgens met hierdie titel vereer.

Van der Linde, wat op ouderdom 17 die jongste ontvanger nog van hierdie gesogte toekenning geword het, is nou ook die Bridgestone SA /SAGMJ Motorsportman van die Jaar vir 2014.

Die talentvolle baanjaer het die toekenning vandag tydens ’n geleentheid in Johannesburg vir sy uitmuntende vertoning verlede jaar in die gesogte GP Masters-reeks ontvang.

Die geleentheid is deur byna 200 van die invloedrykste rolspelers in Suid-Afrikaanse motorsport bygewoon, insluitende Shaun van der Linde, Kelvin se trotse pa en ’n voormalige nasionale kampioen, sy ma Bernadine en jonger broer Sheldon (self ’n finalis vanjaar).

Kelvin het verlede jaar in sy matriekjaar na Duitsland teruggekeer om in ’n Audi RS8 van die Presperia C Abt-span aan die hoogaangeskrewe kampioenskap deel te neem. Hy en sy vennoot Rene Rast het die reeks oorheers en van die voorste sportmotor- en F1-jaers ter wêreld uitgestof om die titel te wen.

Hierdie wêreldklas-vertoning volg op die voormalige renstel- en Volkswagenbeker-kampioen se oorwinning in 2013 in die internasionale VW Scirocco R-Cup-reeks teen jaers van 24 lande.

Hy is ook tydens 2013 gekies om na ’n streng keurproses die elite FIA-instituut se Jong Jaers Uitnemendheidsakademie as Afrika se afgevaardigde by te woon. Vanjaar sal hy sy loopbaansukses na die volgende vlak neem as volwaardige jaer vir die amptelike Audi-span in die internasionale GT Masters-reeks.

Die toekenning, wat uitnemendheid en uitmuntende prestasies deur Suid-Afrikaanse motorsport-mededingers erken en beloon, is die eerste keer in 1964 gewen. Die toekenning word reeds die afgelope 22 jaar deur Bridgestone Suid-Afrika geborg.

Tien ander nominasies is vir die gesogte toekenning ontvang:

Brad Binder, 18, was een van die sterre in die Moto3 GP-reeks op ’n Indiese Mahindra-renfiets. Hy het in vele Moto3 Grands Prix voorgeloop en twee podiumplekke losgejaag. Hy sal vanjaar vir die KTM-fabriekspan jaag.

Elvène Coetzee het in 2014 die eerste vroulike navigator geword om sedert 1960 die Suid-Afrikaanse Tydren-navigatorskampioenskap as navigator vir Leeroy Poulter te wen.

Giniel de Villiers het hom die afgelope twaalf jaar as een van die voorste internasionale motorsportsterre vanuit Suid-Afrikaanse bodem te vestig. Hy het vanjaar weer as naaswenner in die wêreldbekende Dakar-Tydren, wat allerweë beskou word as die strafste veldren ter wêreld, te eindig. Met die Imperial Toyota Hilux Dakar-span het De Villiers die afgelope vier jaar drie keer op die podium geëindig. Hy het reeds drie keer vantevore die Bridgestone SA / SA Gilde van Motorjoernaliste Motorsportman van die Jaar-titel – in 2006, 2009 en 2012 – verower.

Jayde Kruger, die Suid-Afrikaanse Formule Ford- en Volkswagen GTi-kampioen het na Brittanje gereis en die hoogs-mededingende Dunlop Britse Formule Ford-kampioenskap in die laaste ren van die seisoen op Brands Hatch beklink – ʼn uiters betekenisvolle en belangrike titel om te wen, en wat hy nou deel met ikone soos Ayrton Senna.

Jonathan Wing,17, van Hilton-Kollege in KwaZulu-Natal het die Handikart-Wêreldkampioenskap vir 2014 in stortreën in Frankryk gewen. Die enigste rensteljaer in Suid-Afrika wat met ’n prostese teen normale jaers deelneem, het die finale ren in tweede plek begin, die voortou geneem en met 4.5 sekondes gewen om Suid-Afrika sy eerste Handikart-Wêreldkampioenskap te besorg.

Jordan Pepper, 18, was die Nuweling van die Jaar in 2013 in die Internasionale VW Sirocco-Bekerreeks. Verlede jaar is Jordan terug Europa toe en het hy die Volkswagen Sirocco-Beker gewen met een reeksronde nog oor, teen jaers van 23 ander lande. Hy is ook verlede jaar tot die FIA-instituut se Jong Jaers Uitnemendheidsakademie toegelaat nadat hy jaers van twaalf ander lande in die keuring uitgestof het.
.
Leeroy Poulter het die Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap saam met navigator Elvène Coetzee gewen, die eerste nasionale kampioenskapstitel vir Toyota in twintig jaar. Die veelsydige veelvuldige Suid-Afrikaanse kampioen het ook sestiende algeheel in die Dakar-Tydren geëindig. Hy is in 2011 as die Bridgestone SA / SA Gilde van Motorjoernaliste se Motorsportman van die Jaar aangewys.

Die SA renstelspan het verlede jaar die Rotax Max-Uitdaging in Valensië, Spanje, in stortreën gewen, en daarmee met vyftig ander lande en 270 jaers afgereken. Altesame 15 000 Max-Uitdaging rensteljaers van oor die wêreld heen het vir ’n plek in die finaal gewedywer, wat die reeks een van die mededingendste ter wêreld maak.

Die span bestaan uit Kohen Bam en Jordan Sherratt (Junior Max); Eugene Denyssen en Luke Herring (Senior Max); Benjamin Habig en Bradley Liebenberg (DD2); Cristiano Morgado, Erwin Sterne en Richard van Heerde (DD2 Masters).

Sheldon van der Linde, 15, Kelvin se jongste broer, het die 2014 Engen Volkswagen Polo Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskap met sy eerste probeerslag teen ’n groot en mededingende veld gewen. Hy is die jongste jaer wat dit nog ooit kon regkry. Hy het ook reeds twee Suid-Afrikaanse renstelkampioenskaptitels agter sy naam.

Wade Young,18, het die 2014 Nasionale Enduro-Motorfietskampioenskap algeheel gewen, asook die E1 (200cc) Klas. Dis sy tweede opeenvolgende kampioenskapsoorwinning. Hy het ook die 2014 Dak van Afrika-ren in Lesotho vir die tweede keer gewen. Hy het ook internasionaal aan ekstreme enduro-renne gaan deelneem en goed gevaar. In die proses het hy van die voorste jaers in die wêreld geklop.
Hy het hom as een van die voorste jong jaers in die wêreld gevestig.

Die wenner van die Colin Watling-Trofee vir ’n uitmuntende bydrae tot motorsport deur iemand wat nie ’n mededinger is nie, is Toby Venter, uitvoerende hoofamptenaar van Porsche Suid-Afrika.

Venter, ’n jarelange mededinger in Suid-Afrikaanse motorsport en wenner van verskeie Porsche-Uitdagings, het die Kyalami Grand Prix-renbaan en daarmee die baan vir SA motorsport gered.

Ook is Glyn Hall vir die Colin Watling-toekenning genomineer. Hall, ’n veelvuldige ontvanger van hierdie toekenning, is die inspirerende leier van die Toyota-Motorsportspan wat beide die Suid-Afrikaanse Donaldson Veldren- en SA Tydrenkampioenskap gewen het. Agttien Toyota Hilux-voertuie wat in die Hallspeed-werkwinkels voltooi is, het aan die Dakar-Tydren deelgeneem en vyf het in die top-twintig in die motorkategorie geëindig.

Motorsportman van die Jaar sedert 1992
1992 Greg Albertyn
1993 Greg Albertyn
1994 Jan Habig en Douglas Judd
1995 Jaki Scheckter
1996 Wayne Taylor
1997 Etienne van der Linde
1998 Alfie Cox
1999 Thomas Scheckter
2000 Grant Langston
2001 Schalk Burger en Piet Swanepoel
2002 Tschops Sipuka
2003 Alan van der Merwe
2004 Cornel de Villiers
2005 Alfie Cox
2006 Giniel de Villiers
2007 Serge Damseaux
2008 Tyla Rattray
2009 Giniel de Villiers
2010 Ralph Pitchford
2011 Leeroy Poulter
2012 Giniel de Villiers
2013 Kelvin van der Linde
2014 Kelvin van der Linde

Colin Watling-Toekenning
1999 Glyn Hall
2000 Rory Byrne
2001 Peter du Toit
2002 Sarel van der Merwe
2003 Dave McGregor
2004 Alistair Gibson
2005 Dave Clapham
2006 Danie van Jaarsveld
2007 Glyn Hall
2008 Roger McCleery
2009 Peter du Toit
2010 Adrian Pheiffer
2011 Kyalami Marshals’ Association
2012 Glyn Hall
2013 Beaulah Schoeman
2014 Toby Venter

Einde