Twee uit Twee = Wilro

Wilro Dippenaar en Riaan van der Westhuizen wen hul tweede agtereenvolgende tydren in die ex-Jean-Pierre Damseaux / Willie Dames S3 PZN Panelbeaters Toyota Auris 4x4 maar ondanks die feit dat die Bank Windhoek Azurite Tydren Tsumeb resultaat die prestasie maklik laat voorkom was die werklikheid redelik kontrasterend met betrekking tot die finale syfers.

Dit was droog, heelwat droër as wat selfs die Namibiërs aan gewoond is, en gevolglik het die gras nie vreeslik hoog gestaan nie om na afloop van die Vrydag verkenningsrit die deelnemers eens te maak dat Tsumeb teen ‘n stewige tempo gery sou word in 2015. Sestien spanne trek noord om die agt trajekte aan te durf, en twaalf slaag daarin om die eindpunt by die baie bekende Minen Hotel in Tsumeb te bereik.

Dick Cornelissen en Melvin Gous se baie haastige Star Bodyworks S4 Subarau STi Turbo 4x4 was so gretig om die tydren te begin dat dit onderweg die sleepwa probeer weg ry het. Die skade gelukkig minder as wat Dick later sou regkry na kontak met ‘n hek in SS5. Met ‘n topspoed van digby 225km/h raak selfs die wydste plaashek ‘n baie nou gaatjie om deur te wurm in enige voertuig.

Dick en Wilro speel kat en muis met mekaar en op nie minder as drie sneltrajekte (SS2 – SS5 en SS6) deel hul die vinnigste tyd. Na twee trajekte was die Scoobie agt sekondes voor die Auris en na drie krimp die gaping na slegs drie sekondes. Na vier is die Auris met twee sekondes voor en dit bly skaak na vyf en ses. Na die sewende trajek is die gaping sewe sekondes en na die finale trajek rek die gaping tot nege sekondes.

Die Scoobie se onderstel word beskadig in SS5 (nie dat dit enigsins sigbaar was op die tye nie) en ondersteunende hande sorg dat hul onverpoos druk op die Auris uitoefen. Sportiewelik erken Dick en Melvin egter dat hulp ontvang was en diskwalifiseer hulself uit die finale resultaat.

Die motivering om die eindpunt te haal was egter têr ere aan Tant Ushi Pivaliza wat na 35 jaar getroue diens by Star Bodyworks tans baie ernstig siek is en al moes die twee manne daardie Scoobie tot by die eindpunt stoot, sou hul. Daar is nie trofeë vir sulke resultate nie, maar dit is van veel groter waarde!

Allan Martin en Berto Mostert behaal uiteindelik ‘n tweede posisie algeheel en die eerste plek in klas S4 met die ex-Hergen Fekken J&P Hydraulics VW Polo 4x4, maar het hulself werklik as gelukkig beskou nadat die motor se uitlaatspruitstuk afgebreek het en hul geweldig baie krag verloor het vanaf SS6.

(In Namibië kwalifiseer die S2000 motors vir beide klasse S3 en S4 en daarom die verwarring wanneer na die onderskeie klas prestasies verwys word). Jaco Redelinghuys en Dries Booysen krimp uiteindelik die gaping na derde plek tot slegs drie sekondes in die ex-Piet Bakkes acciDent Guru S3 Toyota Run X 4x4 en bewys dat hul vinnig besig is om hul voete te vind in die haastige Toyota.

Hannes Arangies en Aisha Franz mag dalk daarvan beskuldig word dat hul ‘n tuisfront voordeel geniet in Tsumeb, maar om vierde algheel te eindig in hul S1 Toyota Corolla RXi 1.6 spreek eenvoudig boekdele vir hierdie bestuurder se skoon bestuurstyl en was dit beslis een van die tydren se hoogtepunte. Die Opeklas Mazda V8 Bakkie van Bertie Smith en Willem Wessels uiteindelik vyfde algeheel na nog ‘n bestendige vertoning.

Dr Hanré Myburgh en Geon Ellis vier die debuut van hul S2 VW Polo 1.6 op die bes moontlike wyse deur die klas te wen en sesde algeheel te eindig. Ruaan Viviers en Mornay du Toit nie te gelukkig met hul uiteindelike sewende algeheel in die ex-Jean-Pierre Damseaux / Stefanie Hugo S3 Toyota Run X 4x4 nadat hul ook met ‘n hek slaags geraak het.

Vir Jan Everson en Fanie Botes is dit ook ‘n frustrerende resultaat nadat elektriese probleme hul met ‘n stewige hand straftyd, 2min20, beloon het en hul noodgedwonge vanuit ‘n aanvanklike puik vyfde posisie algeheel tot agtste algeheel en tweede in klas S2 moes terugsak in die Seal Consulting Engineers VW Polo 2.0 8v. Richard Slamet en Wiets Coetzee het tyd verloor met ‘n gebreekte olie verkoeler en moes noodgedwonge die tydren na herstelwerk weer hervat onder Super Tydren klassifikasie in die I&S Freight Services S2 Toyota Auris 1.6.

Pieter Greeff en Steven Robinson die tweede Opeklas inskrywing tuis met hul hardwerkende Mazda Bakkie en die finale span tuis was die broers, Jannie en George Coetzee, in hul S2 Ford Focus ST. Die Ford niks gelukkig tydens die finale trajek. Oudergewoonte het die Bank Windhoek Azurite Tydren by die Minen Hotel begin en geeindig en sal die prysuitdeling waarskynlik teen ligdag ook tot ‘n einde kom? (of sodra die Namibiese hoes medisyne voorraad uitgeput word)

Dat die Windhoek Motorklub ‘n wenner het in die Tsumeb Tydren is ‘n feit, die enigste teleurstelling die feit dat daar nog 365 dae moet verloop tot daar weer rigting noord ingeslaan sal word!