Vadersdag 2015

Event: 
Fathers Day 2015

Vadersdag op L’Ormirans klink amper so eksoties aanloklik as wat die watertand uitstalling binne die vier enorme lokale vertoon het aan die groot aantal toeskouers by die Franschhoek Motor Museum op Sondag 21 Junie 2015.

Die lang ry motors voor die ingangshek het gelei tot ‘n tekort aan parkering en veel meer belangrik ‘n tekort aan kos. Soveel om in te neem en so min tyd! Selfs terwyl daar in die ry gestaan is voor die ingang het die konstante vloei van motors in en uit die arena reeds aandag getrek en elkeen het ander emosies uitgelok.

Die geleentheid om rustig saam met die familie op die groot grasperk te sit terwyl daar nog ‘n Ferrari, Bugatti of Maserati voor jou verby beweeg skep eenvoudig ‘n atmosfeer wat nie in woorde uitgedruk kan word nie. Aan die ander kant van die skaal kan die opwinding ook nie werklik uitgedruk word nie – want kinders lees ook hierdie verslag!

Daar is eksotika, veral rooi eksotika, têr sprake maar dit was Vadersdag en ek het met openlike jaloesie geluister na meer as een Vader wat aan sy seun en familie verduidelik het waar en hoe hy baie jare gelede paaie gekruis het met daardie spesifieke ou Alfa Romeo, die storie agter die heuwelren Bugatti of die sukses van die Peugeot as renmotor. Siekte het my die voorreg ontneem om my eie Vader in die Franschhoek Motor Museum ervaring te laat deel, moet nie eendag spyt wees omdat jy nie die geleentheid aangegryp het nie.

Daar is statiese uitstallings in vier groot vertoon lokale met professionale beligting en inligting om aan elke behoefte te voorsien. Hul het vir die Fiat Abarth 850 nuwe kleure aangetrek in die geselskap van bekende renjaer, Dave Hawkins, se vele kunswerke. Die fynere kunsies in die restourasie van ‘n klassieke modderskerm is stap vir stap verduidelik, maar benodig beslis ‘n geoefende hand. Of jy persoonlik dateer uit die era van die Model T Ford of ‘n meer onlangse Chevrolet Corvette hier was  beslis iets wat die verlange sou laat terugkeer. 

Hier was geen wedren om te wen of teenstander om te troef, net soveel nostalgie dat dit bykans tasbaar was. Sonder veel verbeelding kon John Love op die agterste band van die Gunston Chevron gesien word kort voordat hy vir die laaste keer agter die stuur ingeskuif het op Killarney óf die aangesig van Jacky Ickx en die Rothmans Porsche 956 deur die tweede van die Esse onderweg na Leeukop met die aanvang van nog ‘n laeveld donderstorm op Kyalami. Jody Scheckter onderweg na die geruite vlag as Suid Afrikaanse wenner van die SA F1 GP in die Elf Tyrrell 007 dalk net so ‘n kortkop voor Ian Scheckter onderweg na eerste plek in elke wedren waaraan hy ooit deelgeneem het in die Lexington March FA.

Sir Stirling Moss lyk ewe tuis agter die stuur van die D Tipe Jaguar (en ek glo dit was nie net in my gedagtes die geval) in die saal en buite word die atmosfeer simbolies van die legendariese Targa Florio. Wayne Harley en die unieke Peugeot in die voorgrond terwyl Deon de Waal help om die Maserati 250F aan die gang te kry in die agtergrond. Wag amper vir Sir Stirling Moss om vanuit die skaduwee nader te stap. As wenner van die Monaco GP is die Bugatti Tipe 35B ‘n treffer en lyk die Maserati 6CM besonder tuis en oral is daar belangstellendes wat elke beweging absorbeer.

Niks, maar absoluut niks, klink soos die Porsche Carrera V10 – dit is hoendervleis kwaliteit in voorkoms en verslawend in klank. Passie straal uit elke Italiaanse motor met die Ferrari Enzo oudergewoonte die groot trekpleister by die jonger geslag terwyl die ouer garde verlangend na die klassieke 250 Berlinetta 3.0 V12 gestaar het.

Mercedes is goed verteenwoordig en daardie 1929 monster dwing respek af vir die bestuurders van die era wat hierdie motors moes tem. Laat mens regtig met Andreas Nicolaus von Lauda saam stem dat renmotors bestuurders se nekhare moet laat regop staan en nie deur tegnologie beheer moet word nie.

Om nie te praat van die ouer motorfietse. Onnodig om te kla oor die vering, remme of hantering want dit was eenvoudig nie teenwoordig nie. Norton óf The Sunbeam was beide ‘n handvol wat die beste laat uitstaan het op die renbane van die wêreld.
Op die noordelike kant van die arena het radio beheerde vliegtuigies die jongspan se aandag geniet terwyl die GSM brigade ook sterk verteenwoordig was. Almal deel van ‘n besonderse geleentheid waar niemand uitgesonder kon word nie, elke aspek het bygedra tot die sukses.

Die enigste teleurstelling van die dag was die feit dat dit uiteindelik tot ‘n einde moes kom, maar die goeie nuus is dat die Franschhoek Motor Museum daagliks besoek kan word.

Vadersdag kom egter eers weer in 2016!