Wilro en Riaan tem Okahandja

Die plek waar twee riviere (Okakango en Okamita) saamvloei om ‘n groter rivier te vorm is ook bekend as die tuindorp van Namibië. Dit die betekenis van die naam Okahandja in Otjherero. Gesetel sowat 70km Noord van Windhoek in die Otjozondjupa streek van Sentraal Namibië met sowat 25 000 inwoners het Okahandja op Saterdag 13 Junie 2015 gesorg vir groot opwinding deurdat die openingsronde van die Namibiese Tydrenkampoenskapin die streek plaasgevind het.
 

Sewentien spanne het elf sneltrajekte oor ongenadige terrein aangedurf en twaalf het uiteindelik die eindpunt gehaal. Wilro Dippenaar en Riaan van der Westhuizen het die verdediging van hul titel as die 2014 Namibiese Tydrenkampioenne op die bes moontlike wyse begin deur tien van die elf sneltrajekte te wen onderweg na ‘n dominante 5min47 oorwinning in hul PZN Paneelkloppers S3 (S2000 Uitdaging in SA) Toyota Auris 4x4.
 

Vir redes wat moeilik verstaanbaar is kan S2000 motors in beide klasse S3 en S4 van die Namibiese tydrenkampioenskap meeding en daarom dat Allan Martin en Berto Mostert dan met hul JP Hydraulics S4 (S2000 Uitdaging in SA) VW Polo 4x4 die tweede plek ingeneem het. Na die teleurstelling van die Ceres Toyota tydren in Mei was die 2013 Namibiese kampioenne tevrede met ‘n positiewe resultaat.
 

Jaco Redelinghuys en Dries Booysen het hul debuut in die ex-Piet Bakkes acciDent Guru S3 (S2000 Uitdaging in SA) Toyota Run X 4x4 gevier met ‘n baie bemoedigende derde posisie algeheel, sowat 2min28 na die Polo en 39 sekondes vinniger as nog ‘n nuwe kombinasie. Ruan Viviers and Melvin Gous het die ex-Stefanie Hugo S3 (S2000 Uitdaging in SA) Toyota Run X 4x4 goed laat les op sê onderweg na ‘n baie bemoedigende vierde plek algeheel.

Cecil Koorts en Oscar Schoombee was weereens die toonbeeld van bestendigheid en die Barex Equipment S2 (Gp N3 in SA) volg ‘n puik resultaat in die Ceres Toyota tydren op met nog ‘n indrukwekkende vyfde posisie algeheel. Gemeet teenoor Ceres was Okahandja grillerig met spanne en motors tot die uiterste beproef, maar as jy op die hoofweg wil ry is tydrenne nie vir jou bedoel nie.
 

Albertus Smith en Willem Wessels sesde algeheel in hul Veldren Ope Klas Mazda Drifter dubbel kajuit 4.0 V8 met ‘n baie gefrustreerde Dr Hanré Myburgh en Geon Ellis sewende op debuut met hul splinternuwe S2 (S1600 in SA) VW Polo 1.6. Die nuwe motor het deurlopend op drie silinders geloop en ondanks almal se beste pogings kon die probleem eenvoudig nie elimineer word nie.
 

Agtste posisie algeheel beslis ook geen ware refleksie van die potensiaal getoon deur Riaan van Rensburg en Maretha Olivier in hul magtige Veldren Ope Klas Ford Ranger 5.0 V8. Tweede vinngste op nege van die elf trajekte en wenner van sneltrajek vier het hul feitlik verseker van ‘n podium posisie totdat hul sowat twaalf minute moes afstaan in sneltrajek vyf met ‘n papwiel. Daardie gunsteling verhaal van die domkrag wat nie na wense wou funksioneer nie sal lank in veel duideliker taal aan almal wat wil luister vertel kan word, maar dit is die frustrerende kant van die sport. Dat hierdie bakkie egter kan voete optel is ‘n feit!

Tinus Malan en Rian Viljoen het ook intussen die netjiese S2 Toyota MR2 2.0 mooi geleer hoe om sy stukke bymekaar te hou en hul neem die negende posisie algeheel met Peer Röhm en Eugene Marais (nie die Wes Kaap weergawe) tiende in hul kleurvolle S2 Toyota Tazz 1.6 20v. Skade aan die onderstel van hul I&S Freight Services S1 (S1600 in SA) Toyota Auris 1.6 beperk Richard Slamet en Wiets Coetzee tot elfde posisie algeheel met Pieter Greeff en Steven Robinson die finale span tuis in hul hardwerkende Veldren Ope Klas Ford Courier 2.6 V6. 

Jannie en George Coetzee moes ongelukkig na afloop van sneltrajek twee hul S2 Ford Focus ST 2.0 aan die verrigtinge onttrek terwyl Stefan en Christian Labuschagne hul S2 Opel Kadett 2.0 moes onttrek met geen tye op die resultaat. Willem Hugo en Marius van Zyl kon slegs een trajek voltooi in die S4 Subaru Impreza 4x4 Turbo terwyl Jan Everson en Fanie Botes darem vier kon voltooi alvorens skade aan die vering van hul Seal Conulting Engineers S2 VW Polo 2.0 16v hul onttrekking genoodsaak het. Rolf en Kai Pretorius kon ook geen tye aanteken in hul Veldren Ope Klas Toyota Bakkie.
 

Volgende op die Namibiese kalender is die koper tydren in Tsumeb.